Suspicions that the 1977 matrics had anything to do with the fire at Lanzerac Hotel the night after they had enjoyed a reunion lunch there, are unfounded because they were long gone at that time. But according to this report by WILLIE MOSTERT they had a good time in general and their spirit is as strong as ever!
Die klas van 1977 het oor die naweek van 25 tot 26 Mei byeengekom, wat saamgeval het met die Algemene Jaardinee asook die kragmeting teen Paarl Boishaai.
Al was Paul Roos nie altyd aan die wenkant wat die rugby betref nie, het die naweek vir die oudskoliere baie plesier en goeie samesyn opgelewer. Op die Vrydag is ons by die skool deur die die nuwe skoolhoof mnr. André van Staden verwelkom met tee in die komiteekamer, waar ds. Braam Hanekom en Bun Booyens (oud-redakteur van Die Burger) die woord gevoer het.
Ná ′n lekker inligtingsessie het ons die nuwe ontwikkelings op die skoolterrein besigtig. Middagete is by Lanzerac geniet, tesame met ′n paar oud-Bloemhoffers en Rhenish-dames uit ons matriekjaar. Dit was bloot toevallig dat die hotel se restaurant en ontvangsarea die volgende aand afgebrand het – gelukkig kan hulle nie ons klasmaats beskuldig nie – ons was toe lank reeds weg van die perseel!
Die Vrydagaaand het almal die Algemene Jaarvergadering en dinee bygewoon, met Bun Booyens as seremoniemeester en Michael Jordaan as gasspreker. Die volgende dag is gewy aan rugby en het 64 klasmaats (glad nie ′n slegte opkoms uit ′n oorspronklike klas van 104 oorlewende skoliere nie) agterna lekker gekuier oor ′n ete aangebied deur Spitbraai King op Markotter. Terloops, Lappies Labuschagne die eienaar van Spitbraai King en ook ′n Paul Roos Old Boy is ′n week vantevore oorlede, maar sy span was professioneel met heerlike kosse waarvoor hulle alombekend is.
Prof. Wim de Villiers, ons hoofseun en tans rektor van die Stellenbosch Universiteit het net betyds teruggekeer van Oxford in Engeland om met die Old Boys te praat en saam te verkeer en Bun het weer een van sy pittige toesprake gehou.
Tjuks Roos van Paul Roos-wynlandgoed het die tafelwyne geborg, en ons kan getuig dat hierdie agterkleinkind van die Paul Roos uitsonderlike wyne produseer. Die manne het die naweek baie geniet en beloof om meer gereeld in kontak te bly. Ons klas het reeds ′n geslote Facebook-bladsy vir die groep waarvan 83 al lede is en gereeld interaksie het. Elza van die OSU-kantoor se reëlings was seepglad, waarvoor ons haar baie dankbaar is.
Die gees van 1977 loop nog sterk!
Willie Mostert
