Edition / Uitgawe Nov 2015

‘n Besoek aan Hilda se graf

Hilda Swartz was die alombekende en geliefde sekretaresse van die Oud-skoliere-Unie van 1998 tot sy onverwags in Julie 2014 oorlede is. Philip Myburgh, oud-komiteelid wat lank saam met haar gewerk het, het onlangs haar graf op haar geboorteplaas Kruisementfontein in die Dordrecht-distrik opgesoek.

Op 10 Augustus 2015 het ek van Clarens na Lady Grey gery met die doel om ‘n blommetjie op Hilda se graf te gaan sit en het vooraf slaapplek gereël by die gastehuis op Vorstershoek. Jy neem die R58 na Barkley-Oos en 27 km van Lady Grey, draai ‘n mens regs op die R392 na Dordrecht. Die ingang na die plaas is 6 km verder.

Francois Vorster, Hilda se neef, is baas van die plaas en sien om na die sowat 2500-3000 vleismerino’s. Ek kan nie ophou dink aan al die lekker afval wat daardie 10-12 000 pote sal kan maak nie! Esther, sy vrou, bestuur die gastehuis en gee ook skool op Lady Grey. Vorstershoek is deel van die oorspronklike Kruisementfontein, waar Francois (die derde geslag) grond huur. Hy het gesê hy sal my na die graf neem.

Die oggend van 11 Augustus was nie so koud soos op 7 Julie 2014 nie, maar die water in die emmers in die hanslammerhok het ‘n dun laag 10 mm ys op gehad. Dit lyk my in hierdie omgewing moet mens die botter in die yskas bêre om dit meer smeerbaar te hou. Francois sê as die kwik by 25°C draai, kry hulle warm!

Voor ek vort is Vorstershoek toe, maak ek eers ‘n draai by die “Butcher House” in Lady Grey om ‘n tjoppie te koop en sommer om te vra waar kan ek blomme kry. Binne staan een vrou agter die geldklavier en ‘n ander een saam met my voor die toonbank. Ek betaal vir my vleis en vra hulle waar kan ek blomme koop.

“Nie in Lady Grey nie, meneer. Aliwal-Noord het blomme, maar dit is 50 km terug van waar jy gekom het. Dis hoekom al die vroue in Lady Grey met sulke lang gesigte rondloop. Hul mans koop nie blomme vir hulle nie.

“Hoekom soek jy blomme” vra die een aan my kant van die kasregister. Ek vertel haar en sy raak bloedrooi in die gesig, amper asof sy na haar asem snak.

“Ek is Hilda se niggie, sy sal hou van veldblomme, selfs grassies,” sukkel sy om die woorde uit te kry.

Blommetjies hierdie tyd van die jaar was maar skaars in die omgewing. Ek en Jessica het toe langs die pad na Vorstershoek ‘n gerfie droë grashalms gesny, asook twee takkies wilde olyf en ‘n grysbossie waarvan ek die naam nie ken nie, dit als vasgedraai met garing en ons kransie toe namens die Matriekklas van 1966 op Hilda se graf geplaas. Krisante wat ek by Esther afgerokkel het, is namens al die oud-skoliere op haar graf geplaas.

Die graf is uit harde klip en gruis gekap op een van die hoogste koppies op die plaas. Die graf is onopvallend en baie min van die natuur is versteur, net soos Hilda dit wou gehad het en hoe sy wou begrawe word op haar geliefde Kruisementfontein. In ‘n lae muurtjie van gekapte klip is gemessel ‘n eenvoudige 30 cm x 30 cm grafsteen met haar naam, geboorte- en sterfdatums. Dis al.

Die 360° uitsig oor die golwe van berge en diep klowe is asemrowend. Loodreg ondertoe, sowat 250 m, kronkel die vallei ver verby die koppie en eindig in ‘n pan. Hoog op die horison is daar ‘n spitserige koppie waar die tweede hoogste treinstasie in Suid-Afrika gebou was. Hier is proviand vir boer en dier in die ou dae afgelaai nadat die trein eers heen-en-weer deur 13 dwarslyne stadig die steiltes moes uitsukkel.

Net hier waar Hilda haar kinder-en jongmensdae soveel geniet het, het sy ‘n plekkie uitgesoek om begrawe te word wat uitkyk oor alles wat sy waardeer het. Ek hoor haar sing: Op berge en in dale en oweral is God… Hilda, rus in vrede.