Dit gebeur nie aldag dat ʼn graad 8-nuweling jou kan vertel dat sy pa, oupa en oupagrootjie almal Paul Roosers was nie en dan het hy boonop ʼn hele paar ooms wat ook die skoolgronde deurkruis het.
Bjorn het vanjaar die vierde geslag geword van die Ruppersberg-familie wat by Paul Roos skoolgaan. Hy is ontsettend trots dat hy ʼn skool kan bywoon waarvan sy voorgeslagte deel was en sal, mits als goed gaan, in 2020 matrikuleer.
Sy oupagrootjie Jannie Christiaan (Jan) Ruppersberg, wat in 1918 gebore is, was sewe jaar oud toe hy in 1925 op Stellenbosch begin skoolgaan. Sy broers, Andries (en later sy seun André), Coenie (en later sy seun Johan) en Gert het ook die skool bygewoon. Mnr Paul Roos was van die begin tot die einde van sy skoolloopbaan rektor van die skool. Jan het in 1934 soos die meeste mense van daardie tyd die skool na Standerd 8 verlaat.
Net na skool het hy gaan werk by die toe in staatsbesit wynkelder Welgevallen, wat vandag deel van die Universiteit van Stellenbosch is. Hy het daarna onder die bekende prof C J Theron gestudeer en was later ʼn dosent in praktiese wingerdbou en wynkunde op die plaas Elsenburg, wat vandag bekend staan as die Elsenburg Landboukollege.
Jan was ʼn legendariese figuur op Elsenburg en tot vandag toe word daar nog stories oor hom vertel. Hy was ʼn man van min woorde wat van dissipline gehou en geen nonsens verduur het nie. In die oë van die studente wat by hom prakties moes doen, was hy ʼn regte slawedrywer en het laatkommers summier weggejaag. Hy is met Ilse Reinke, ʼn meisie van Skots-Duitse afkoms getroud en hulle het saam vier seuns op Elsenburg groot gemaak. Jan Ruppersberg het tragies voor sy aftrede siek geword en gesterf.
Drie van die seuns, Fritz Karl Ernst, Johannes Coenraad en Jannie Christiaan was ook op Paul Roos. Jannie (die tweede) het volle erekleure vir atletiek by Paul Roos ontvang. Na hy die skool in 1970 verlaat het, het hy eers in die Suid Afrikaanse Polisie gedien, voor hy as ʼn natuurbewaarder in die Tafelberg-natuurreservaat gaan werk het.
Hy en sy vrou, Jackie, het in ʼn vallei langs Ou Kaapse weg naby Noordhoek gebly. In daardie jare was daar nie elektrisiteit of lopende water nie en omstandighede was relatief primitief, maar hulle was gelukkig daar. Jannie het elke dag die berg te perd gepatrolleer en het ʼn besondere liefde vir diere en spesifiek perde gehad. Hy en sy vrou het twee seuns in dieselfde jaar gehad, Jannie Christiaan (die derde) en Heinrich.
Hy het later in die Duitse plaasgemeenskap Schaapkraal in Philippi ʼn kleinhoewe gekoop. Jannie en Jackie is in dié gemeenskap as diereliefhebbers bekend. Albei seuns is Paul Roos toe gestuur waar hulle koshuisgangers was.
Jannie Christiaan Ruppersberg (die derde) in 1988 by Paul Roos ingeval. In sy eerste jaar by die skool het hy ook erekleure vir atletiek ontvang. Ná skool het hy sy diensplig gedoen by 1 Spesiale Diensbataljon in Bloemfontein waar hy Vrystaat-kleure vir atletiek en bok ontvang het . Hy het sy vrou, Yvette, op ʼn jong ouderdom ontmoet en hulle het een seun genaamd Bjorn. Jannie is tans in ʼn bestuursposisie van ʼn sekuriteitsmaatskappy in Kaapstad.
So doen ʼn familie dit!
