Edition / Uitgawe Oct 2021

Top-toekenning aan Johan de Beer (1963)

Die Rudolf Krahmann-gedenkmedalje is onlangs toegeken aan dr Johan de Beer (1963). Hierdie gedenkmedalje is die hoogste toekenning wat Saga (die Suid-Afrikaanse Geofisiese Assosiasie / South African Geophysical Association) aan ‘n lid toegeken kan word. Dit word gegee vir ‘n uitsonderlike bydrae tot die beroep van Geofisika in Suid-Afrika deur navorsing, tegniese leierskap of diens.

Die nominasie voer onder meer aan dat Johan internasionaal bekend is vir baanbrekerswerk in geomagnetiese induksiestudies. Hy en prof Ian Gough het bygedra tot die ontdekking van elektriese geleidingsanomalië in Suider-Afrika, die Suid-Kaap Geleidingsgordel, en ’n ander wat deel vorm van die Damara Mobiele Gordel in Noord-Namibië en Noordwes-Botswana.

Voorts was Johan en dr Jan van Zijl leiers in diep elektriese Schlumberger-sonderings en hou steeds die rekord vir die langste afstand van ongeveer 1200 kilometer. Hulle werk oor die diep strukture van die Kaapvaalkraton met behulp van `”ultra-deep” weerstandstudies is werklike baanbrekerswerk. Johan het ook deelgeneem aan die bou van ‘n tuisgemaakte magnetotelluriese opnamestelsel, asook studies met die Long Offset Transient Elektromagnetic method (LOTEM).

Johan het oor ‘n lang tyd aan universiteite doseer en was buitengewone professor in Geofisika aan die Randse Afrikaanse Universiteit. Hy is die skrywer of medeskrywer van 53 ewekniebeoordeelde artikels in internasionale vaktydskrifte en het sodoende ‘n onderskeidende rol gespeel om die grondslag te formuleer vir ons begrip van die struktuur van die Suider-Afrikaanse geologie. Ons plaas die aankondiging in Saga se nuusbrief.