Paul Roosers het onlangs Boomplantweek op drie verskillende maniere gevier. Dit is moontlik gemaak deur die Lenteloopkomitee (sien artikel) elders, ‘n inisiatief van die klas van 1973.
In samewerking met Cape Nature is inheemse bome in die Assegaaibosch Natuureservaat geplant. Twee assegaaibome (Curtisia Dentata), twee geelhoute (‘n Podocarpus Latifolius en ‘n Podocarpus Falcatus), ‘n keiappel (Dovyalis Caffra), ‘n wildepruim (Harpephyllum Caffra) en twee rooi-else (Cunonia Capensis) is geplant. Die Munisipaliteit van Stellenbosch het ook twee bosvliere (Nuxia floribunda) geskenk. Hierdie boomplanting het saamgeval met ‘n Lenteloop op Saterdag 4 September wat ‘n soortgelyke Lenteloop 50 jaar gelede herdenk het.
Vier verteenwoordigers van Cape Nature het die 41 oudleerders, wat aan Lentelope in die sewentigerjare deel geneem het en ‘n klompie huidige leerlinge in die Jonkershoek-reservaat vergesel.
Voor Boomplantweek het dr. Willem Botha, ’n oudleerder van 1970 en die hoofredakteur van die WAT, 250 saailinge van Pondo-waterhoute (Syzygium pondoense) aan graad agt-leerlinge oorhandig. Hopelik sal die ontvangers hierdie veeldoelige, inheemse boompies goed versorg of uitdeel en sal heelwat saailinge teen 2071 volgroeide bome wees.
Die derde manier waarop die Oudskoliere-unie (en ook individuele oudleerders) deelgeneem het aan Boomplantweek, was deur bome te skenk vir die skoolterrein. Hempies du Toit, ‘n oudleerder van 1971 en oud-Springbok rugbyspeler, het die voorbeeld gestel deur ‘n kuskoraalboom (Kaapse koraal) te skenk. Sodra die bouwerk aan die nuwe krieketsentrum afgehandel is, sal nog meer inheemse bome langs die krieketveld by die skool geplant word.
Danie van Niekerk (1973)

