
Verlede jaar kon Johan (Apie) Rossouw nie sy 1971-reünie nie bywoon nie, maar hy het wel die volgende herinneringe aan Willie van der Merwe, wat op 8 Desember verlede jaar oorlede is, gestuur:
“Die hartseernuus van die heengaan van Willie vang my. Tot 1970 het daar baie nuwelinge by ons jaargroep aangesluit, maar een van die klomp wat van sub A af saam gekom het, was Willie. So ook Pippin Joubert. Ek dink Johan Wasserfall het in st. 5 bygekom en daar kan meer wees wat, soos hulle, ons verlaat het van wie ek nie weet nie.
“Maar nou lê dit swaar op my hart dat ek sedert 1970 nie een van julle nog kon groet nie. Net vir Pierre Du Preez ‘n paar keer en André Ruppersberg een keer.
“My maters, my gedagtes gaan terug na 62 jaar gelede toe ons die eerste keer bymekaar gekom het. Party in juffrou Knoetse se klassie daar agter Edrichs en die ander in die ander klas. Ek sien julle almal voor my geestesoog en weet ons is almal vandag hartseer oor Willie, maar ons sal hom weer sien, en diegene wat reeds voor hom ons verlaat het. Mag hy sag rus, verlos van pyn en ongemak, en sy familie troos en versterking vind by Jesus.
Mooi loop tot ons mekaar weer sien.”
Johan (Apie) Rossouw
