Edition / Uitgawe Apr 2022

Kontraste belig in militêr se digbundeldebuut

Op 27 Februarie is die krygskundige Louis du Plessis (1963) se eerste digbundel Teen Helderberg by die Rupertmuseum in Stellenbosch bekend gestel. 

Van sy 1963-klasmaats was by die geleentheid. Op die foto hierbo staan van links: Theo Mey, Louis du Plessis, Johan de Beer en Manie van Zyl.

Dirk Louw het Louis uitgevra oor die inspirasie en agtergrond  vir sy gedigte en  van die gedigte is voorgelees. 

Volgens sy uitgewer, Naledi, herleef die skrywer sy jong dae teen Helderberg in boeiende rym om ‘n reeks uitdagende kontraste te stel “tussen natuur en stad,  tussen verstening en herlewing, tussen konflik en vrede,  tussen slagofferskap en veerkrag,  tussen die magtige kosmos en die skeppende enkeling”.

Louis du Plessis word groot op ’n druiweplaas teen Helderberg, leer van geskiedenis en politieke filosofie op Stellenbosch en doktoreer in 1988 in politieke wetenskap in Pretoria. 

Hy het verskeie Weermagposte beklee (sy moedereenheid was 1 Valskermbataljon) en daarna word hy dosent aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Krygskunde en direkteur van die Sentrum vir Militêre Studie. 

Louis skryf rubrieke, artikels en hoofstukke oor onder meer uitdagings vir Afrika. Hy is die mederedakteur van akademiese werke oor konflik en veiligheid en ook ‘n direksielid van die Afrikaanse Taalraad.

Hy is in 2008 met die Dekorasie van die Goue Protea bekroon. Dit is in 2003 deur die President van Suid-Afrika ingestel as die hoogste toekenning vir verdienstelike optrede op militêre gebied.