Edition / Uitgawe Jul 2022

Help die Stellenbosch Trail Fund om die Eersterivier skoon te hou en te beveilig

Van tyd tot tyd vra mense hoe hulle ‘n sinvolle bydrae kan lewer tot omgewingsbewaring of selfs geld aan Paul Roos Gimnasium daarvoor kan skenk met die wete dat hul geld goed en eerlik aangewend sal word.

Die nie-winsgewende organisasie Stellenbosch Trail Fund (STF) is die antwoord. 

Die STF het sedert 2011  ‘n mandaat om voet- en fietspaadjies langs die Eersterivier, vanaf Jonkershoek tot by Spier, te bou en te onderhou. Terselfdertyd word die rivier skoongehou. 

Danksy dié poging is daar ook baie minder bosslapers in die omgewing, veral voor Paul Roos en Bloemhof. Hierdie paadjies is belangrike pendelroetes vir skoliere skool toe en terug.

Gesprekke tussen die Old Boys, die skool en die STF het tot die voorstel gelei dat Paul Roos en sy oudskoliere verantwoordelikheid neem vir die rivier regoor die skool en koshuise. 

‘n Praktiese manier om by te dra is om die plant en toekomstige onderhoud van jong endemiese bome langs die rivier te borg. Die koste beloop R8 000,00 per boom. Dié geld help met die STF-werksaamhede bo en behalwe die “boomplant-gedeelte”. Individue of selfs jaargroepe kan hierdie as ‘n projek onderneem en weet dat huidige leerlinge en Stellenbosch-inwoners met vreugde in veiligheid langs die Eersterivier kan beweeg. 

Elke boom kry ‘n naamplaatjie met besonderhede van die skenker of borg. Bome kan selfs ook ter nagedagtenis van geliefde oud-onderwysers geborg word. Dink byvoorbeeld aan Tant Siena de Kock wat in Die Laan gebly het en die roostuin van die skool so mooi versorg het.

Erkenning word gegee aan mense wat bome borg en die bome kan gebruik word om hulde te bring aan diegene wat ‘n groot rol in ons lewens gespeel het.

Ons kan met dankbaarheid raporteer dat Dup Venter (1975) reeds sy hand opgesteek het om ‘n boom voor Prima Nova-koshuis te borg.

Hiermee nooi ons alle Old Boys uit om deel te word van hierdie poging om Paul Roos Gimnasium en Stellenbosch in sy geheel “dié plek” te maak om op trots te wees. Dit is belangrik dat jong bome in Augustus aangeplant word, en ons hoop om vanjaar al ‘n goeie klompie bome aan te plant!

Alle verdere inligting is beskikbaar op die STF-webtuiste of kontak die OSU-kantoor by oldboys@paulroos.co.za