Edition / Uitgawe Jun 2016

Die klas van 1966 het die regte resep vir ʼn heerlike reünie

Wanneer ʼn mens begin beplan aan die program van jou matriekklas se 50ste reünie, dink jy natuurlik dadelik aan programme van vorige reünies. Ons klas was bevoorreg om in 1966, die eeufeesjaar van Paul Roos-Gimnasium, in matriek te kon wees.

Dit beteken dat ons vanjaar, saam met die skool se 150ste jaar feesvieringe, boonop ʼn ietwat spesiale reünie wou reël. Gevolglik is ongeveer ʼn jaar voor die tyd begin om die datum vir ʼn naweek vas te maak asook om twee hoof-organiseerders aan te wys. In ons geval was dit Philip Myburgh en myself. Kort voor lank het ʼn hele paar ander klasmaats ook aktief hulp verleen, waaronder Willem Murray, Johan Lubbe, Johan Stegmann en Johann van Heerden. Elza van der Walt by die Oud-Skoliere-unie se kantoor het ons ook heeltyd baie doeltreffend en vriendelik bygestaan.

Ons beplande program vir die naweek van 20-21 Mei het baie goed afgeloop. Vrydagoggend was ons by die skool waar die rektor ons baie onderhoudend toegespreek en allerlei vrae beantwoord het. Mariena Kotzé by die argief het daarna haar interessante wêreld van foto’s, geskrifte, memorabilia, versamelings en wat nog alles met groot kundigheid en entoesiasme uiteengesit. Die rektor het ter afsluiting vir ons op die terrein begelei na die ou sowel as indrukwekkende nuwe gedeeltes van die gebouekompleks. Hy het ook allerlei nuttige inligting oor die skool, hul opvoedingsbenadering en onlangse prestasies toegelig.

Vir middagete het ons beweeg na die Markötter-terrein waar Helene van Wyk se smaaklike disse op ons gewag het en die kroegdiens ook ingeskop het! Willem Murray het al die nodige toebehore verskaf sodat daar in die middag ʼn mededingende spel boules op die gras voor die Long Room tussen spanne van twee gespeel kon word. Luide kommentaar tydens die spel het gelukkig niemand afgesit nie. Teen 16:00 het die manne ʼn vonkelwynproe deur die Huis van JC le Roux geniet wat ten nouste aansluiting gevind het by die Franse lewensstyl van die boules. Die vonkelwynproe het oorgespoel in ʼn braaivleis op die boonste stoep van die Markötter-klubhuis. Dit was ʼn onvergeetlike mooi aand, met die amperse volmaan wat agter die Pieke op ʼn wolklose aand opgekom het. Die gedreun van die geselsery het dalk effens afbreuk gedoen aan die statigheid van hierdie toneel! Kontakbesonderhede oor taxi’s en Uber was natuurlik vooraf beskikbaar.

Markotter steps
Die Old Boys van 1966 wat hier op die Markotter-stoeptrappe sit is voor van links Ryk Joubert, Pieter Cilliers, Gerhard Blom, Willem Murray, Eugene Hauptfleisch, Julian Meintjes, Johann Rabie, Alex Versfeld en Malcolm Gibbons; en agter van links Johann van Heerden, Philip Myburgh (staande), Charles Betts, Johan Lubbe, Ivan Flint, Clive Alexander, Edwin Hertzog, Michael Creech, Peter de Waard en Albie Hoffmann.

Die Saterdagaand-funksie was die hoogtepunt. Almal, gades en metgeselle inkluis, het bymekaar gekom by die Towerbosch-restaurant op die plaas Knorhoek, Stellenbosch (die eiendom van die twee Van Niekerk-broers en ook oud-Paul Roosers). Towerbosch is werklik uitstekend geskik vir ʼn reünie en bied ʼn baie mooi omgewing met genoeg parkering, heerlike kos en goeie wyne. Willem Murray het homself met ʼn puik skyfievertoning oortref en almal beïndruk met sy versameling van foto’s, Semper-artikels en pittige kommentaar oor klaslede en allerlei insidente tydens ons skooljare.

Towerbosch
In die Towerbosch-restaurant sit Ben de Wet, Philip Erasmus, James Craven, Johan Lubbe en Ivan Flint heel voor, Johann Rabie, Willem Murray, Edwin Hertzog, Philip Myburgh, Roucher du Toit en Johan Stegmann is in die middel en agter staan van links Malcolm Gibbons, Carl Ziervogel, Charles Betts (agter Carl), Michael Creech, Niel Krige, Harry Viljoen, Julian Meintjes, Pieter Cilliers, Clive Alexander, Johan Brink, Gerhard Blom en Johann van Heerden.

ʼn Spesiale item tydens die aandete is deur een van ons klasmaats, Roucher du Toit, gelewer. Roucher is ʼn wêreldberoemde orrelis en pianis en ook orrelis van die Groote Kerk in Kaapstad. Kort na die ete begin het, het hy almal op ʼn vleuelklavier begelei om die skoollied uit volle bors te sing waarna hy ons nog met twee verdere stukke klavierspel betower het: een van sy eie komposisies en die ander ʼn Mozart-stuk. Tydens die ete het Johan Stegmann verder gesorg vir agtergrondsmusiek uit 1966, ons matriekjaar. Daar was ook ʼn kort verwelkomingswoord, ʼn gepaste huldeblyk deur Philip Myburgh aan al die klaslede wat ongelukkig nie meer met ons is nie (19 uit die oorpspronklike 97), en ʼn heildronk wat op die skool ingestel is deur Michael Creech, wat spesiaal van Arlington, Minnesota na Stellenbosch gekom het, insluitend ʼn hele paar vermaaklike stories wat impromptu opgedis is.

Om die aand mee af te sluit, het Roucher almal die skoollied twee maal met oorgawe laat sing. Dit was die amptelike einde van ʼn heerlike en verrykende byeenkoms.

As lede van die ouer garde, kan ons klas ons “resep” vir so ʼn geleentheid beslis sterk by die lede van die jonger garde aanbeveel!

Edwin Hertzog
2 Junie 2016