Edition / Uitgawe Jun 2023

Totsiens aan ‘n reus

Hierdie artikel oor Steven Kitshoff (2010) deur Stephen Nel wat op 27 Mei in Die Burger verskyn het, word met hul verlof gepubliseer

“Wat ‘n speler, wat ‘n mens.”

Steven Kitshoff, kaptein van die Stormers, groet Saterdag op die hoë noot van ‘n tweede agtereenvolgende Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd in die DHL-stadion in Kaapstad. Wen of verloor, kan hy hom steeds daarop roem dat hy die suksesvolste Stormers-kaptein in die geskiedenis is.

“Ek voel jammer vir vaskopstutte. Ek dink hulle het ‘n slapelose nag op die vooraand van ‘n wedstryd waar hulle teen Steven gaan speel. Ek dink vaskopstutte is bang om hom kwaad te maak, “ het Matt Proudfoot, wat Kitshoff by die Stormers en Springbokke afgerig het, sy deugde as ‘n loskopstut opgesom.

Kitshoff was net 19 toe hy sy buiging vir die Stormers op 14 Mei 2011 teen die Chiefs in Hamilton gemaak het. Hy is onmiddellik na sy matriekeindeksamen die vorige jaar genooi om saam met die Stormers te oefen.

“Hy het dadelik ingepas.Hy het ongelooflik hard gewerk en die senior ouens het agting vir hom gekry. Hy is nie verwaand nie en dit was asof hy vir ewig al daar was, “ vertel Proudfoot.

Kitshoff het hom as ‘n mens deur die jare ook baie beindruk.

“Die groot ding van Steven is hoe prettig hy is. Hy is altyd net vriendelik, gee om vir mense en is snaaks, “ sê Proudfoot.

“Hy het vir almal tyd, oud en jonk. Hy bring altyd tyd deur met jong spelers wat kom oefen het en gesels met toeskouers langs die oefenveld. Dit het my altyd beïndruk. Hy het op ‘n jong ouderdom al baie emosionele volwassenheid gehad.”

Kitshoff se toetrede tot die Stormers was in ‘n era van supersterre. Jean de Villiers en Schalk Burger was in 2011 kapteins, terwyl daar ander groot name soos Duane Vermeulen, Bryan Habana en Jacque Fourie was.

De Villiers onthou Kitshoff se toetrede tot hul groep spelers nog baie goed.

“Hy was 18 en ek dink ons moes toestemming van sy ouers kry dat hy op so ‘n jong ouderdom mag speel, met veiligheid in die skrums in gedagte,“ vertel De Villiers.

“In daardie eerste paar seisoene dink ek Kitsie het omtrent vyf woorde ‘n week in die spanopset gesê en dit was gewoonlik ná wedstryde wanneer hy al ‘n paar biere gedrink het. Hy was baie stil, maar het altyd breed geglimlag en goed gespeel.

“Hy is steeds nie ‘n man van baie woorde nie, maar het ontwikkel in ‘n speler van wêreldgehalte. Hy lei van voor af en het ook die vermoë om die span te kry om vir ‘n gemeenskaplike doelwit te speel.”

Nóg ‘n voormalige Stormers-kaptein, Corné Krige, sê dat hy aanvanklik verras was met die aanstelling van Kitshoff as kaptein.

“Ek het gewonder of dit die regte keuse is. Hy lyk ‘n bietjie stil en teruggetrokke. Maar sjoe, hoe meer hy gespeel en die rol van kaptein vervul het, hoe beter het hy geraak,” sê Krige.

“Baie ouens se spelpeil ly wanneer hulle die kaptein raak as gevolg van die ander verantwoordelikhede wat hulle bykry. Van Steven kan ek sê dat hy net al hoe beter geraak het. Ek is uiters beïndruk met sy kapteinskap en die wyse waarop hy die span op ‘n stil manier lei.”

Jacques Nienaber, wat in 2011 die Stormes se verdedigingsafrigter was, onthou dat dit ‘n proses was om toestemming te kry om Kitshoff as tiener by die diepkant in te gooi.

“Jy mag nie op daardie ouderdom op stut hoëvlakrugby speel nie. Ons moes hom vir verskeie toetse stuur, “ vertel Nienaber, nou die Springbok-afrigter.

“Ek dink dit spreek boekdele vir ‘n ou soos Steven. Hy was toe al een van daardie wonderkinders, soos Frans Steyn wat só vroeg op ‘n hoë vlak begin speel het en Canan Moodie nou.

“Dis ongelooflik hoe hy gevaar en as ‘n mens gegroei het.” Op 31 is Kitshoff in die fleur van sy loopbaan as ‘n stut en vir vaskopstutte daarbuite – benewens dié wat saam met hom speel – is die slegte nuus dat Proudfoot meen hy het nog nie eens sy beste rugby gespeel nie.

“Ek dink nie ons het al die beste van Steven gesien nie. Hy gaan nog baie ontwikkel en is die kaliber van speler wat meer as 150 toetse kan speel.”

Kitshoff gaan sy loopbaan ná die Wêreldbeker-toernooi by Ulster voortsit, maar planne word reeds gesmee om hom ná sy twee seisoene daar weer terug te bring Stormers toe.