
At the Mass Reunion on 19 May 2023 the Rector, Mr André van Staden, reminded the Old Boys about the importance of the values the school are instilling in its learners, but the growth and success of the school are placing pressure on its infrastructure maintenance and development. They are forging ahead with the school’s master plan on various levels, e.g., an enlarged gymnasium, upgraded laboratories, staff accommodation, and will soon start with the construction of the first of two new 60 bed hostels.
Al is Paul Roos Gimnasium vandag ‘n moderne wêreldskool waar seuns toegerus en bemagtig word om hul plek in die breë Suid–Afrikaanse samelewing en ook in die wêreld met sukses vol te staan, word onveranderlike waardes met sorg nagestreef.
Die old school values van trots, respek en ‘gentlemanskap’ word jaloers bewaar en uitgeleef.
So het rektor André van Staden in sy toespraak by die Massareünie op Vrydag 19 Mei 2023 gesê. Hy meen dat die skool gerespekteer word omdat dit waardegedrewe is. “Ons moet altyd onthou dat ons trots op die skool gevestig is in etos, waardes en die gees van die skool en nie op suksesse en prestasies nie.
Hy het wel dit wat in 2022 bereik is op alle terreine – akademie, kultuur en sport – met behulp van grafika uitgebeeld wat in die volgende artikel gesien kan word.
“PRG is in ‘n dinamiese en opwindende tydvak van sy bestaan. Ons groei in leerdergetalle, meer spanne en ons suksesse plaas reuse-druk op ons infrastruktuur. Byvoorbeeld het ons ‘n dringende behoefte aan ses nuwe klaskamers en ‘n ouditorium. Ons werk voortdurend daaraan om ons kampus op dié vlak te kry en te hou, waar ons met die beste in die land kan kompeteer,” het die rektor gesê.
Ongelooflike sukses word met die skool se instandhoudingsprogram en meesterplan vir ontwikkeling behaal. Onderhoudswerk aan die Marköttervelde is uitgekontrakteer en die uitbreiding van die Nova-koshuis met 12 beddens is afgehandel.
Vanjaar op die program is die uitbreiding van die gimnasium om die prestasieprogram te ondersteun. Die PRG 150 Trust het twee huise op Stellenbosch gekoop om sy hand te versterk met die werwing van toppersoneel en R4 miljoen beskikbaar gestel om die laboratoriums vir fisieke wetenskappe op te gradeer.
Onderhandelinge is begin met Stellenbosch-universiteit oor grond vir ‘n astrobaan en daar is ook ‘n fisiopraktyk op die skool se kampus gevestig.
Daar word beplan om aanstaande jaar die eerste van twee 60 man koshuise te bou, sodat dit in Januarie 2025 gereed kan wees vir okkupasie. Dit sal in die reuse-behoefte aan koshuisakkommodasie voorsien en op die langer termyn beskerming bied teen die WKOD se toelatingsregulasies wat al hoe meer beperkings op die skool plaas, het mnr Van Staden gesê.
