Edition / Uitgawe Oct 2023

Nuwe Johan J Ferreira Hoëprestasiesentrum geopen

Wyle Johan Ferreira se weduwee, seuns en hul eggenote by die naambord van die opgegradeerde hoëprestasiesentrum.

Op Dinsdag 26 September 2023 het Paul Roos Gimnasium die nuut opgegradeerde Johan J Ferreira Hoëprestasiesentrum amptelik in gebruik geneem. Beleggers, projekbestuurders, argitekte, potensiële vennote en gemeenskapsrolspelers het die geleentheid bygewoon.

Tydens die funksie is die gaste ingelig oor PRG se omvattende meesterplan vir ontwikkeling. Daar is ook uitgebrei oor die unieke Performance Development Pathway-program, wat vanuit die Johan J Ferreira Hoëprestasiesentrum bedryf word.

Sentrumbestuurder, sportwetenskaplike en kondisioneringsafrigter Elric Pretorius het verduidelik hoe hierdie holistiese program al 1300 Paul Roos Gimnasium-leerders se algehele fiksheid en fisieke ontwikkeling bevorder.

Mnr. Pretorius het die gaste ingelig dat verder gespesialiseerde afrigting binne die Johan J Ferreira Hoëprestasiesentrum jong sportmanne en atlete sal bemagtig om in hul onderskeie sportvelde optimaal te ontwikkel.

Die oorspronklike Johan Ferreira Gimnasium is deur die ontslape Johan J Ferreira befonds. Die geleentheid is gebruik om eer te betoon aan mnr. Ferreira wat die fondasie vir hierdie projek reeds soveel jare gelede gelê het. Mev Ferreira, haar seuns en hul eggenote het die geleentheid as eregaste bygewoon.

‘n Holistiese benadering word toegepas om algehele fiksheid en fisieke ontwikkeling te bevorder.