Edition / Uitgawe Oct 2024

Olla was waarlik ‘n legende!

Andries (Olla) Olivier (1963): 2/7/1944 – 27/7/2024

Andries Olivier, beter bekend as Olla vir sy 1963-matriekmaats asook sy wye vriendekring veral in die wynbedryf, is op 27 Julie 2024 oorlede.

Olla se spoor sal lank sigbaar bly en in herinnering geroep word.  Hy was ‘n lewenslange passievolle ondersteuner van Paul Roos Gimnasium, sy ou alma mater en menige oud- en jong Paul Rooser sal sy rysige figuur wat al effens geboë was, langs die Markötter-rugbyveld onthou. 

In die SA wynbedryf is daar baie wynmakers van naam wat Olla as ‘n mentor en rolmodel sal onthou.  Hy het nie verniet as gerekende wynkenner en grootmaat-wynhandelaar in 2022 die Veritas Vereniging se Lewende Legende Oorkonde ontvang vir sy jarelange bydrae aan die SA wynbedryf nie.

En miskien beskryf die woord legende, Olla ten beste. Iewers is geskryf:

A legend is someone who leaves behind an unforgettable impression on others. They touch lives, they’re remembered, they’re cherished. There are all sorts of legends in this world – famous or not. Becoming one means finding your particular role, your calling, following it, and touching others around you.”

Op 80- jarige ouderdom het Olla dit steeds gedoen.

Olla was ‘n goeie vaandeldraer van ons alma mater se leuse: Semper Splendidior, en sy storie sal onthou word deur sy 1963-klasmaats.

Theo Mey (1963)