Edition / Uitgawe Apr 2017

Albie Louw, 10 Februarie 1925 – 5 Februarie 2017

Albie Louw was ’n bekende plaaslike musikant en pianis, wat in Paul Roos se tyd as skoolhoof die skool bygewoon het. Hy het in 1943 gematrikuleer en het daarna by die Cape Town School of Music (Ikeys) studeer. Hy was ’n bariton en het saam met sy broer, Louwtjie Louw (ook ’n oudleerling), in die jare vyftig en sestig in operas vir KRUIK opgetree. Hy was lank aan die SAUK verbonde en het ook verskeie werke vir die FAK verwerk en is onlangs deur die ATKV daarvoor vereer.

Op skool en universiteit was hy bekend onder die studente as pianis wat hulle begelei het tydens intervarsity-wedstryde. Albie het ook die dansmusiek by funksies verskaf. Waar Albie was, was daar altyd ’n partytjie. Vir ons as kinders was hy ’n groot bron van “entertainment”. Klavierspeel en sang was ’n gewilde familietydverdryf en sodoende is die liefde vir musiek aan ons en die derde geslag oorgedra.

Hy, sy broers en suster was op skool betrokke by die Jan Pierewiet-orkes en hulle het in die platteland getoer en by funksies opgetree. Hoewel ons familieplaas in die Malmesbury-distrik was, het ons oupa ’n huis naby die skool in Stellenbosch gehuur en die jonger seuns het toe daar hul skoolloopbaan voltooi. Hul skoolmaats het gereeld op die plaas kom kuier.

Albie het ’n baie groot liefde vir sy skool, nou Paul Roos Gimnasium , gehad en dit was vir hom verblydend dat William Eveleigh die tradisie as leerder van die skool kon voortsit. Hy was altyd bly om enige nuus van die skool te verneem.

Janine Eveleigh (Albie was Janine se pa se broer en William Eveleight (Gr 12E2) se oom)