Edition / Uitgawe Apr 2017

Robin Gratjios (PRG: 1946-1955) en die verhaal van Stellenbosch se beroemde kafeekat

A surprise visit by an Old Boy to his alma mater revealed the interesting story of the famous Stellenbosch Café Cat for whom a statue was erected in front of the library and also the woes of life during the Second World War years when many young families lost their fathers in the war theatres of Egypt. MARIENA KOTZE, PRG archivist, shares it with us.

Dikwels bring besoeke van oud-skoliere aan PRG se argief so ’n verskeidenheid van interessante vertellinge dat mens met een enkele besoek besef wat die historiese waarde daarvan vir die skool se argief is Dit laat mens weer eens besef hoeveel waarde die geskiedenis van hierdie skool se oud-skoliere toevoeg tot Stellenbosch se geskiedenis. Oud-skolier Robin Gratjios se besoek op Maandag 13 Maart was só ’n hoogtepunt. Sy effense Australiese tongval is duidelik herkenbaar ná meer as 36 jaar in Australië. Op 77-jarige ouderdom is hy nou afgetree en woonagtig in Binalong Bay,Tasmanië.

Ná twee jaar in Laerskool Rhenish, het Robin sy skoolloopbaan van graad 3 tot graad 10 (1955) aan PRG voltooi toe hy die destydse Junior Sertifikaat geslaag het. Daarna is hy vir twee jaar na die Generaal Botha Vlootkollege in Gordonsbaai waar hy in 1957 matriek geslaag het (die Vlootkollege was in daardie stadium net ’n paar jaar deel van die Kaapse Onderwysdepartement). Sy vlootloopbaan het begin by Shell Tankers en Safmarine en sedert 1981 het hy ook in Australië gewerk. Al sê hy trots “I spent my whole life at sea in South Africa and in Australia,” is sy Afrikaans, ten spyte van ’n bykomende aksent, nog heel goed.

Robin se oupa was Robert McKie Thomson, oorspronklik van Riccarton, Kilmarnock in Skotland. Hy was in die vroeë 1900’s die staatsaanklaer op Stellenbosch en lid van ’n baie sterk Skotse gemeenskap op die dorp. Hierdie Skotte het ’n redelik groot invloed op die geskiedenis van Stellenbosch gehad. Die eerste drie rektore van die Gimnasium was almal Skotte asook die eerste professore van die Stellenbosch Kollege, die latere Victoria Kollege.

Sy vader was William Alexander Donald Thomson wat in 1911 gebore is en ook tot 1928 ’n skolier aan die Gimnasium. Hy trou met Mary Rennie en Robin is in 1939 uit hierdie huwelik gebore.

Die Tweede Wêreldoorlog breek egter uit en W.A.D. Thomson is deel van ’n groep Suid-Afrikaanse soldate wat in Noord-Afrika aan veldslae deelneem. Hy is ’n lugwerktuigkundige (air mechanic) en lid van 12 Eskader van die Suid- Afrikaanse Lugmag. Hy sneuwel op 15 November 1941 in Egipte toe die Martin Maryland-bomwerper waarin hy en sewe ander gevlieg het, aan die brand slaan nadat een van die bomme aan boord skielik ontplof het. Ses van die agt bemanningslede sterf toe die vliegtuig neerstort.

W.A.D.Thomson (magsnommer 209033) is in El Alamein begrawe, maar daar is ook in die Stellenbosch-begraafplaas ’n klein gedenksteentjie vir hom by sy ouers se grafstene aangebring.

Op tweejarige ouderdom is Robin sonder ’n pa, maar toe hy vyf jaar oud was, trou sy moeder weer met Mitchell Gratjios, die Griekse eienaar van die Good Hope Kafee in Pleinstraat op Stellenbosch. Robin (sy noemnaam) word deur sy stiefpa wetlik aangeneem en staan van toe af as Robin Gratjios bekend en dit is ook dié van waaronder hy sy skoolloopbaan voltooi.

Robin het ’n kat met die naam Jumbo gehad wat saans in die Good Hope Kafee in leë sjokoladebokse geslaap het om die muise weg te hou. Toe die munisipaliteit hiervan te hore kom, is alle katte in Stellenbosch verban uit winkels waar kos verkoop is. Die bekende Stellenbosse kunstenares Nerine Desmond het ’n afbeelding van Jumbo gemaak en dit aan die Munisipaliteit geskenk.
Dít is die einste beeldhouwerk van Stellenbosch se beroemde kafeekat wat voor die Openbare Biblioteek in Pleinstraat staan.

Mariena Kotze
PRG Argief