Edition / Uitgawe Mar 2016

Hoe weet jy hy was in Paul Roos op skool?

Cornelia de Kock, Van Alle Kante in Die Burger 15 Maart 2016

Cornelia de Kock het in 1990 een kwartaal in die plek van mnr. Henry Ekron waargeneem (Afrikaans en Geskiedenis) en in 1993 in die plek van mnr. Bill Moolman (Geskiedenis). Haar seun, Johan de Kock (matriek 1992), is ʼn baie lojale old boy wat in 2009 ʼn doktorsgraad in Finansiële Wiskunde aan die Universiteit van Kaiserslautern in Duitsland behaal het.

Dit is vandeesmaand 150 jaar gelede dat Paul Roos Gimnasium sy deure die eerste keer oopgemaak het. Die amptelike opening is in die Moederkerk gehou.

Kyk ʼn mens na die verlede, is die enorme bydrae wat die skool op alle gebiede van die Suid- Afrikaanse samelewing gelewer het, verstommend. In die feesjaar word die name van die individue wat gepresteer het, nie vermeld nie.

ʼn Historiese blik op die skool vertel van ʼn verskeidenheid gebiede waarop Paul Roosers gepresteer het. Hulle het letterlik op alle terreine van die lewe hul invloed laat geld.

Oor 80 jaar was ʼn sestigtal leerders op die Kaaplandse Senior Sertifikaat-merietelys. Baie jare was daar meer as een Paul Rooser op die lys, en tien het die eerste plek beklee.

Dertien oudleerders het reeds die kanseliersmedalje van die Universiteit Stellenbosch ontvang; dit is ʼn vyfde van alle ontvangers.

Sedert 1903 is die Rhodesbeurs vir verdere studie aan die Universiteit Oxford aan 105 Paul Roosers toegeken.

Die perswese, die politiek, die letterkunde, visuele kuns, klassieke musiek en ligte musiek, asook die toneel- en die radiowêreld wemel van oud-Paul Roosers wat groot bydraes gelewer het.

Ook universiteitsrektore, hoofregters en bekende wetenskaplikes, wiskundiges, ingenieurs, ekonome en medici kom uit die Paul Roos-stal.

Op sportgebied het Paul Roosers uitgeblink. Dis die skool in Suid-Afrika wat die meeste Springbokrugbyspelers, 51 altesame, opgelewer het.

Dit is die prestasies van die verlede – die roem van anderhalf eeu gelede. Hoe funksioneer die skool in die 21ste eeu, en hoe word die werklikhede gehanteer?

Paul Roos Gimnasium is as gevolg van sy ligging ʼn unieke skool. Geleë in ʼn universiteitsdorp met ʼn baie hoë akademiese kapasiteit, maar terselfdertyd die dorp in die land met die grootste gaping tussen ryk en arm.

Die skool is in die eerste plek ʼn seunsvriendelike skool – ʼn skool waar alle seuns gelukkig moet wees. Die visie van die skool bied die antwoord op diversiteit: “Paul Roos Gimnasium wil ʼn leidende, gerespekteerde en relevante hoër skool vir seuns in Suid-Afrika wees.”

Daar word vertel dat die seuns die laaste skooldag op verskillende maniere ervaar. Daar is dié wat lag van vreugde omdat hul skooldae verby is, dié wat huil van hartseer oor die afskeid en dié wat nie emosie toon nie. Hulle was daar, het baie ervaar en is gereed vir die toekoms.

Die krag van die skool is geleë in die lojaliteit van die old boys en huidige leerders.

Getrou aan sy leuse, Semper Splendidior, bly die skool so helder soos op die eerste dag.

Geen wonder nie dat dié grappie oor Paul Roosers ontstaan het: “Hoe weet ʼn mens iemand was op Paul Roos op skool?”

“Hy vertel dit vir jou.”