Johannes Zacharias Moolman, oud-onderwyser by Paul Roos van 1982-1994
Die nuus van oud-onderwyser Johannes Zacharias Moolman (Hannes) se afsterwe op 9 Mei 2016 in Houston, Texas in die VSA, in die ouderdom van 83 sal waarskynlik deur meeste van sy leerlinge met hartseer ontvang word.
Met sy kenmerkende bos grys hare, unieke onderwysstyl en goeie humorsin, het mnr Moolman, wat van 1982 tot met sy aftrede in 1994 Afrikaans by Paul Roos aangebied het, nie net in die harte van sy leerlinge ingekruip nie, maar ook die mooi bynaam Silwer verwerf.
Sy liefde vir sy vak het hy met entoesiasme gedeel en as hoof van die dramaklub is daar talle Afrikaanse toneelstukke op die planke gebring.
Mnr Moolman is op 23 November 1933 in Rosendal in die Oranje-Vrystaat gebore. Hy studeer aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en verwerf ʼn BA-graad met Afrikaans en Liggaamlike Opvoeding as hoofvakke sowel as ʼn B.Ed.-graad in Opvoedkunde.
Hy laat sy vrou, Helene Moolman, met wie hy 54 jaar getroud was, asook vier dogters en ses kleinkinders agter. Hy sal onthou word as ʼn man met ʼn standvastige, kinderlike geloof in sy God, vir sy musikale talent wat hy met ander gedeel het, en ʼn innige liefde vir sy medemens.

