Edition / Uitgawe Oct 2016

Old Boys presteer – Jean Meiring

Jean Meiring bekroon as kykNET-Rapportprys vir Boekresensent van die Jaar

Jean Meiring (1991) het onlangs die kykNET-Rapportprys vir die boekresensent van die jaar gewen vir fiksie. Dié prys beloop R25 000 en word toegeken vir die beste Afrikaanse resensie wat in die voorafgaande jaar oor Afrikaanse fiksie verskyn het. Sy wenresensie het op die boekeblaaie van BeeldDie Burger en Volksblad verskyn.

ʼn Paragraaf teen die einde van Meiring se resensie “Huppel met chutzpah oor konvensies heen” oor Johan Fourie se roman Struisvoël (Netwerk24, 2 November 2015) is ewe veel van toepassing op sy resensie as op die oorspronklike werk, sê die keurders, volgens kykNET se persverklaring.

Effe aangepas, sou dit lui: “(Die resensie) is voorwaar ʼn rariteit in die Afrikaanse (resensiekunde). Dis ’n slim en spitsvondige (resensie) wat ’n sentrale tema in die Afrikaanse leefwêreld – die plaas en sy mitologiese nasleep – speels onder die loep neem.” En wat ’n heerlike leeservaring bied dit nie! sê die keurders. Meiring se insigte is gevat verwoord en hy toon uitstekende kennis van die konteks waarin die roman gelees kan word, naamlik die “morsige gejaag deur die boord van die Afrikaanse plaasroman”.