A v Staden
Edition / Uitgawe Jun 2017

Ons gesels met ons nuwe rektor

Die nuwe rektor is nog skaars twee maande met ons, maar mnr. André van Staden was van die eerste dag tuis en dis duidelik dat hierdie ervare onderwysman met ′n passie vir Afrikaans ′n intense belangstelling in die ontwikkeling van jongmense het. Ons het hom uitgevra oor sy loopbaan tot nou, veral die jare by Pearson en die uitdagings wat op Paul Roos wag en wat hy as die 16de Rektor van hierdie trotse skool wil bereik.

  • Vertel vir ons van jou grootwordjare en waar jy skool gegaan het

Ek is gebore en getoë in Port Elizabeth. Ek kom uit ′n gesin van vier. Ek het ′n broer en twee susters en het aan die Universiteit van Port Elizabeth studeer. 

  • Waarom het jy juis die onderwys as loopbaan gekies?

Ek het ′n passie en belangstelling vir my vak, Afrikaans, en het dit baie geniet om Afrikaans te onderrig. Ek was ook ′n deeltydse dosent en geniet dit om onderwysers op te lei om Afrikaans as vak aan te bied. Wat Afrikaans as kommunikasietaal op Stellenbosch betref, dink ek die dorp kan hom as Afrikaanse dorp posisioneer en ander sentra motiveer om hul Afrikaanse karakter uit te bou. Verder het ek ′n intense belangstelling in die ontwikkeling van jongmense en geniet dit om met jongmense te werk. Ek hou van die energie wat jongmense uitstraal.

  • Na jou studiejare aan die Universiteit van Port Elizabeth, was jou eerste onderwysjare by Grey High. Is die kultuur van ′n bekende seunskool soos Grey High en die Oos-Kaap baie anders as wat jy by Paul Roos ondervind?

Grey High is ′n Engelse skool met baie ou Engelse tradisies, soos Trooping the Colour, kadette, ′n blaasorkes, ens. Tog is die twee instansies baie eenders. Albei skole se seuns is baie kompeterend en gedrewe. Albei skole het ′n ryk geskiedenis en so baie om op trots te wees.

  • Meer oor jou jare daarna as skoolhoof by Pearson. Wat het in die jare wat jy daar was sedert 2004 verander by die skool? Wat was die hoogtepunte?

Die skool het ontwikkel van ′n skool van 440 tot ′n skool van 1200 en het ′n skool van keuse in die Oos-Kaap geword. Die afgelope 10 jaar het hulle elke jaar ′n groot fasiliteit bygevoeg. Sport het baie ontwikkel en die skool het begin meeding met die beste seun- en meisieskole in die land. Die skool het elke jaar een van die top akademiese presteerders in die Oos-Kaap opgelewer. Die skool is deur Fair Lady aangewys as een van die top 25 staatskole in die land.

  • Wat het jou gemotiveer om na al die jare by Pearson na Paul Roos te kom?

Ek het geglo dat ek graag weer by ′n tradisonele seunskool wil wees en het gevoel dat dit is waar ek ′n bydrae kan lewer. Uit die aard van die saak was Paul Roos ′n trekpleister, ′n skool wat regdeur die land gerespekteer word.

  • Wat het jou gesin, veral jou vrou Adia, van die skuif na Stellenbosch gedink?

Adia was opgewonde om naby aan die kinders te wees en het gevoel dat ons twee gereed is vir ′n vernuwing en dat die uitdaging vir ons goed sal wees. Ons is albei energiek en geniet ′n nuwe uitdaging en milieu.

  • Jou seuns, Quintin en Kurt, studeer ook op Stellenbosch?

Quintin is ′n finale jaar mediese student en Kurt studeer aktuarieel. Albei is opgewonde dat die gesin weer naby aan mekaar is, want ons geniet dit om dinge saam te doen.

  • Wat was jou indrukke van Paul Roos in jou eerste week hier?

Daar is iets spesiaals en dat die seuns en die onderwysers ondersteunend is. Toe ek in die rektorskantoor ingetrek het, het ek ′n gevoel van trots ervaar om die 16de rektor van hierdie indrukwekkende skool te wees. Ek het soveel respek vir die fenomenale oud-skoliere wat die skool opgelewer het en die ryk geskiedenis en grootheid van die skool in die Suid-Afrikaanse opvoedkundige wêreld. Ek het my ten doel gestel om ′n nalatenskap te laat en die instansie met waardigheid en respek te lei.

  • Wat is jou onderwysfilosofie?

Ek glo aan uitnemendheid op alle gebiede en die ontwikkeling van gebalanseerde jongmans wat ′n positiewe bydrae tot die lewe kan maak. Ek wil leerders toerus met die regte vaardighede om hul drome te bereik.

  • Is daar nog nuwe uitdagings vir Paul Roos in die lig van die baie gunstige onlangse evalueringsverslag van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (sien artikel elders in die nuusbrief)?

Ja, dat die veranderende landskap altyd nuwe uitdagings sal bied. Die skool moet altyd relevant wees vir die wêreld waarin die kind grootword. Paul Roos se strewe na uitmuntendheid moet verder versterk word. Die skool sal sy geriewe verder moet opknap en verdere geriewe byvoeg om bekend te staan as een van die mees gerespekteerde skole in die land met die beste fasiliteite wat sy seuns die beste geleenthede bied. Verder sal die skool ′n skool van keuse moet wees vir die beste onderwysers in die land. I believe we must be better tomorrow than what we were today.

  • Wat is jou stokperdjies en belangstellings? Is daar ooit tyd daarvoor?

Daar is nie tyd in ′n skoolhoof se lewe vir stokperdjies nie. Ek geniet dit egter om tyd met my familie deur te bring, ′n goeie boek te lees en om ′n bietjie weg te breek.

Artikel: Hugo Truter
Hooffoto bo: Digital Image Warehouse