Jo Prins skryf oor die reünie van die 1987-klas
Skoolreünies bly nou maar eenmaal ʼn vreemde affêre…
Soveel te meer as jy vir die eerste keer in 30 jaar besluit om uiteindelik dié ritueel mee te maak.
Ons matriekklas, die klas van 1987, het maande voor die reünie op 18 en 19 Augustus aan die gesels geraak op ʼn uitgebreide WhatsApp-groep.
Ouens wat mekaar letterlik jare laas gesien het, het so voel-voel met mekaar begin praat. Wie is waar in die wêreld? Wie doen wat? Wie is ʼn “diknek” in watter corporate, wie boer waar en wie boer gewoon met kinders?
Nie lank nie of die usual suspects vind mekaar.
Die ouens wat saam gesurf het, gerook het; die dorpskinders (wat nog maar steeds die dorpskinders is); die plaaskinders; die koshuiskinders (veral die Suidwesters); die eerstespan-rugby lot (medelye aan almal…); die bleeksiele; ens. Noem maar op.
Vinnig-vinnig is daar ʼn gemoedelike banter…
Manne maak planne vir ʼn potjie gholf oor die naweek; daar’s gerugte van ʼn bierroete vir bergfietsers in Jonkershoek; en dan natuurlik die vooraf koppe bymekaar vir die groot game teen Grey.
“And then disaster struck…”
Een van die Suidwesters, wat destyds al ʼn hegte band of brothers was, verongeluk sowat ʼn maand voor die reünie op sy motorfiets.
Die een oomblik was Morné (Malan) nog lekker aan die saampraat en skerts, en toe net weg. Net so.
En toe kom die voorstel: Kom ons noem die hek by Markötter, waarvoor ons juis besig was om geld in te samel, die Morné Malan-hek.
Ja, daar ís rugby gespeel die naweek… daar is heelwat wyn gedrink en tot laat gekuier en opgevang.
En hoewel bittersoet dié herinnering, kan ek op ʼn vreemde manier nie aan ʼn beter hekwagter dink vir ons heiligdom nie.
Vir dié wat reeds voor ons uit is, en vir dié van ons wat nog hier is: Ons sien mekaar weer híér, net anderkant die hek.
* Jo Prins is die nasionale boekeredakteur van Media24 se Afrikaanse dagblaaie.
