
Vir meer foto’s van die toernooi, kliek hier.
Die jaarlikse Touchies-toernooi tussen die Old Boys en die skoliere het vanjaar op 25 Augustus op Markötter plaasgevind.
Spanne het weer eens bestaan uit sewe manne met “rolling subs” en die wedstryde is op ʼn tweegroep-uitklopbasis beslis. Elke span het uitspeelwedstryde in sy groep gespeel voor die uitkloprondtes aangebreek het. Wedstryde is 8 minute lank aan ʼn kant op die helfte van die hoofveld van Markötter gespeel en twee wedstryde kon tegelykertyd gespeel word.
Vanjaar het ses Old Boys-spanne ingeskryf wat kragte met ses skoolspanne gemeet het. Nuwe spanne, soos die Ayas 69, PRG Old Boys en Stadig maar Seker, het hulle aangesluit by verlede jaar se Legends, Babelaspas en Fifty Shades of Step.
Legends se kaptein, Merwe “The Swerve” Schwartz, het dit vooraf duidelik gestel dat hoewel hulle die “ouer” Old Boys verteenwoordig, hulle hierdie jaar die koppie, oftewel skild, huis toe wil vat. Ter voorbereiding het hy sy spanlede skynbaar blootgestel aan ʼn intense voorseisoense kondisioneringsprogram.
PRG Old Boys se geheime wapen was die oud-Lions en Saracenskaptein, Ernst Joubert, met Bles Kemp wat die leisels as kaptein vat! Volgens hom was ʼn verloor op Markötter geen opsie nie…
ʼn Welkome toevoeging tot die toernooi was die borgskap van Outdoor Warehouse te danke aan Old Boy Kobus Potgieter met pryse ter waarde van R10 000.00. Die toernooi word toe tot die Outdoor Warehouse PRG Old Boys Touchies-toernooi herbenaam.
Wedstryde het stiptelik om 15:00 begin en soos verlede jaar was daar van die begin af strawwe mededinging. Babelaspas, wie se voorbereiding skynbaar bestaan het uit “let’s just pitch up and see what happens because it’s all in the head”, vind die mededinging uiters straf, maar met die besef dat Mediclinic net oorkant die pad is, swoeg hulle voort.
Terwyl die wedstryde aan die gang was, is die vure aangesteek vir die spitbraai en die kuier na die tyd.
Nadat die spanne alles in die stryd gewerp het, innoverende taktiek aan die dag gelê is en ouderdomme vir ʼn wyle vergete was, dring Old Boys-span Ayas 69 deur na die eindstryd om teen die skoolspan die Lions te staan te kom.
Die spanning het behoorlik opgelaai toe die telling gelyk was teen die einde en ekstra tyd gespeel moet word. En die skild gaan aan die Old Boys toe Ayas 69 die knoop deurhak – die eerste keer dat Old Boysspan die touchies wen!
Baie geluk aan ons Old Boys-span Ayas 69.
Ná die eindstryd vind die prysoorhandiging plaas met Old Boys- en Stormerslosskakel Damian Willemse, wat die pryse aan die Ayas 69-spanlede oorhandig. Ernst Joubert is as die speler van die toernooi aangewys.
ʼn Lekker spitbraai met die topwyne en biere lui ʼn ontspanne Vrydagaand-kuier in.
ʼn Groot dankie aan Stephan Jordaan, Lukas Rootman en hul skoolpersoneel vir hul betrokkenheid en die reëlings aan die skool se kant en dan natuurlik Elza van die Old Boys- kantoor sonder wie die toernooi nie ʼn sukses sou gewees het nie.
Spesiale dank aan Kobus Potgieter en Outdoor Warehouse vir hul borgskap en betrokkenheid.
En natuurlik dankie aan Damian Willemse vir sy teenwoordigheid en oorhandiging van die pryse.
Met ʼn borgskap nou aan boord sien ons uit na ʼn opwindende toernooi in 2018. Sodra die datum bepaal is, laat ons julle weet. Sien julle volgende jaar!
Francois Schoombee
Foto’s: Digital Image Warehouse
