Edition / Uitgawe Mar 2018

Carl “Pikkie” Knierim (1949), man van vele talente

Carl “Pikkie” Knierim is vroegoggend op 2 Februrarie 2018 in Hermanus oorlede. Gebore op 17 Desember 1931 in Kaapstad, het hy sy 86 jaar hier ten volle benut.

As oudste seun van vier kinders het hy grootgeword op hul familieplaas, Modderfontein, in Brackenfell en by PRG skoolgegaan. Daarna het hy in Paarl, Gansbaai, Bonnievale en Franskraal gewoon. Hy was ’n veemedikasie- en verkoopsman in die Karoo, ’n tolk in Duitsland, eienaar van  ’n visfabriek en ’n slaghuis op Gansbaai, entrepreneur en boer op Karringmelksvlei, Nuwedam en Bergsig.

Hy het ’n liefde gehad vir rock and roll en die danspassies gehad wat daarmee saamgaan. Tale was een van sy sterkpunte en in sy latere jare was hy daagliks besig met blokkiesraaisels. Hy het ook geglo dat mens goeie kos moet eet, in matigheid, en Kerstye saam met al sy kinders en kleinkinders was ’n groot prioriteit en feesmaal. Sy liefde vir stories vertel en bietjie stout wees, het gesorg vir baie interessante tye en het beslis ’n indruk gelaat op die mense wat hom so leer ken het.

Hierdie huldeblyk aan Pikkie het sy gesin in Die Burger geplaas.