Jean-Jacques (JJ) Kotze se veelsydigheid is ongebreidel, maar rugby is ongetwyfeld sy groot liefde. Reeds op vroeë ouderdom by die Laerskool Panorama het hy die Westelike Provinse se o13-span gehaal, maar op Paul Roos moes hy verskeie terugslae oorkom om uiteindelik vanjaar vir die SA Skolespan gekies te word.
Harde inklimspel en sy vermoë om op die rugbyveld leiding te neem, is waarskynlik die aspekte wat vir hom deure oopgemaak het na die WP se Grant Khomo o16-span en die o16-ontwikkelingskamp vir uitgesoekte spelers, Paul Roos se eerste span, die WP se o18 Cravenweekspan en die skolespan.
JJ wat ’n navolgenswaardige voorbeeld stel met sy mooi persoonlikheid, selfdissipline en hoë werksverrigting, het ook in Paul Roos se leerlingraad gedien en volkleure vir akademie, atletiek en stoei verwerf. Hy het ook waterpolo vir die skool gespeel.
Aanstaande jaar wil hy BSc Fisioterapie aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer en sy droom daarna is om sy eie praktyk te bedryf.
JJ is in murg en been ʼn Paul Rooser wat die skool se waardes uitleef en ’n rolmodel vir alle Paul Roosers.
Marinus Pretorius

Voor van links: mnr. Hannes Prinsloo (kondisionering), Jarrod Cairns, Ruben Labuschagne, Robert Rodgers, Xander Botha, Kade Wolhuter, Regan van der Westhuizen, Juan Mostert, mnr. Corné Uys (afrigter) en mnr. Fanie de Klerk (fisioterapeut);
Agter van links: mnr. Marinus Pretorius (hoofafrigter), Mathew Cordy, Hermann Heins, Remey Engelbrecht, Tiaan Pretorius, Mink Scharink, Brendan Venter, Daniel Swart, Jean-Jacques Kotze (Kaptein), Johann Bouwer, Hanru Jacobs en mnr. Ryno Combrinck (hoof van rugby).
