Edition / Uitgawe Sep 2018

Old Boys-rugbykomitee – een jaar later

Die wenners van die gholfdag, Francois Prinsloo en Stuart Thomson, by die rektor, mnr André van Staden.

Die Old Boys Rugbykomitee het so bietjie meer as ’n jaar gelede as ’n formele subkomitee van die Oudskoliere-Unie tot stand gekom.

Die lede van die komitee en hul portefeuljes is soos volg:

  • Bles Kemp: talentïdentifisering en fondsinsameling;
  • Boitjie Vermeulen: talentïdentifisering en fondsinsameling;
  • Wimpie Steyn: talentïdentifisering en borgskappe;
  • Ernst Joubert: bemarking;
  • Chris Steyn: Markötter en fondsinsameling;
  • Flip de Bruyn: tesourier; en
  • Marius Moller: sekretaris.

Die missie van hierdie komitee is om aktief met die skool saam te werk om Paul Roos Gimnasium die top-rugbyskool in die land te maak, nie net op o.19 vlak nie, maar in al die ouderdomsgroepe. Soos uit die gemelde portefeuljes afgelei kan word, word dit deur talentïdentifisering, borgskappe en finansiële bydraes, bemarking en bydraes tot afrigting gedoen.

Na aanleiding van ’n behoeftebepaling deur die skool en ’n gesprek daaroor, het die komitee hom tot ’n bedrag van R300 000 per jaar vir afrigtingsdoeleindes verbind. ’n Verdere onderneming was dat hierdie bedrag jaarliks afsonderlik ingesamel word en geen huidige Old Boys-fondse daarvoor ingespan mag word nie.

Uiteraard was dit ’n groot uitdaging en het die komitee gefokus op twee groot fondsinsamelingsgeleenthede: ’n Kapteinsdinee en ’n Old Boys Rugby-gholfdag.

Bles en Boitjie het voorgevat en saam met die res van die komitee is die eerste Kapteinsdinee vanjaar op Donderdag 3 Mei in die Longroom by PRG se tuisveld op Markötter aangebied.

Die dinee is deur altesame 240 kapteins en spelers van die eerste en tweede spanne van Paul Roos oor die jare bygewoon. Van 1953 se Johan Gerber tot 2017 se eerstespan-kaptein was daar. Onder die legendariese spelers wat die geleentheid bygewoon het, was Gans Coetzee van die 1974- span, Bles Kemp en Justin Swart van die onoorwonne 1991-span en Ernst Joubert, voormalige Lions- en Saracens-kaptein.

Gassprekers by die geleentheid was Jacques Hanekom, bekende oud-afrigter, asook PRG se eerste Direkteur van Rugby, Ryno Combrinck. Marinus Pretorius, hoofafrigter van vanjaar se eerstespan het sy spelers voorgestel, en die spelers se truie vir hul wedstryd die volgende Saterdag teen Paarl Gimnasium is deur oud-kapteins aan hul oorhandig. ’n Hoogtepunt tydens dié seremonie was toe Juan Mostert, losskakel van die huidige eerstespan, sy trui van sy oupa, Attie Mostert (lid van 1953 se eerste rugbyspan) ontvang het.

Almal het dié geleentheid terdeë geniet en talle staaltjies en stories is opgediep. Die dinee beloof om ’n jaarlikse instelling op die PRG-kalender te word. Vir almal wat daar was, sê ons ’n groot dankie. Danksy jul bydraes kon ons ’n stewige bedrag van R140 000 bank!

Donasies is met groot dank van verskeie Old Boys ontvang. Spesiale melding moet gemaak word van Kobus Visagie, wat R8 000 geskenk het, en die reüniegroepe van 1988 en 1998, wat onderskeidelik R13 000 en R50 000 bygedra het.

Talentïdentifisering het nie agterweë gebly nie. Onder leiding van Wimpie en Bles is ’n aktiewe program en ’n netwerk vir die identifisering van talent van stapel gestuur. Komiteelede woon plaaslike laerskoolwedstryde op Stellenbosch en in die Helderbergkom by. Daar word ook staatgemaak op ons landswye Old Boys-netwerk om ons met die identifiseringsproses by te staan.

Leemtes in bemarking is uitgewys en is ons besig om in samewerking met die skool ’n doeltreffende bemarkingsplan van stapel te stuur.

Met Boitjie en Bles wat voorgevat het, is ’n baie suksesvolle gholfdag op 13 September 2018 aangebied. ’n Vol veld van 36 vierballe het deelgeneem en daarna tydens ’n ete en veiling sosiaal verkeer. ’n Hoofborgskap van R30 000 en verskeie natgate wat geborg is met bykomende pryse en veilingsitems, het gesorg daarvoor dat hierdie eerste Old Boys Rugby-gholfdag ’n permanente inskrywing op die Old Boys-kalender gaan raak.

Kliek op die skakel vir foto’s van die gholfdag: https://digitalimagewarehouse.smugmug.com/Skole/Paul-Roos-Gymnasium-/Paul-Roos-Old-Boys/Paul-Roos-Rugby-Golfdag-2018-

Baie dankie aan al die Old Boys wat ons ondersteun het die afgelope jaar. Ons laat julle binnekort weet wat ons als vir volgende jaar beplan, wat onder meer ’n “Donderdagaand Brag voor Grey” en ’n nog groter gholfdag sal insluit.

Francois Schoombee, Voorsitter