’n Gedenkdiens vir Tannie Dinks Liebenberg, laaste oorlewende kind van Oom Polla, is op 18 Julie in die Japie Krigesaal gehou.
Tannie Dinks is reeds op 2 Desember 2017 oorlede, maar die diens is uitgestel tot 18 Julie omdat haar kinders en kleinkinders oor die wêreld heen verspreid is. Vir die familie sal dit waarskynlik die laaste keer wees dat dat almal saam in Suid-Afrika byeen is.
Tannie Dinks (eintlik Magdalena Roos) was ook die laaste oorlewende lid van die 1938 Bloemhof-matriekklas.
Die gesin het vroeër in die dag haar wens vervul om haar en haar man se as in die Paul Roos-familiegraf ter aarde te bestel.
Die diens is deur belangstellendes bygewoon. Ds Danie O’Kennedy, ’n Old Boy, het die diens gelei en Jock de Jager, oud-rektor, het ook sy herinneringe aan Tannie Dinks en die Roos-familie gedeel.

Op die foto verskyn van links Marlene du Plessis (wat in Tauranga, Noord-eiland, Nieu-Seeland, woon en met dr. Vic du Plessis, ’n mediese spesialis getroud is), Lynette Paterson (wat in Grahamstad woon waar haar man ’n professor aan Rhodes Universiteit is), André Liebenberg (’n siviele ingenieur van Perth, Australië) en Suretha Bester (wat twee weke ná Tannie Dinks se begrafnis van Pretoria na George verhuis het om daar af te tree). André se dogter en twee seuns was ook by Tannie Dinks se diens.
Foto: Hugo Truter
