Gerhard Tötemeyer (klas van 1955) se outobiografie, A Rebel for Change (in Apartheid South Africa and Colonial Namibia), het verlede jaar verskyn en vir ons ’n kykie gegee in die lewe van een van ons bekendste Old Boys.
Gerhard word ter plaatse onthou vir sy akademiese loopbaan, maar in Namibië het hy ook op politieke terrein sy merk gemaak, onder meer as direkteur van verkiesings, parlementslid en adjunk-minister van streeks- en plaaslike regering.
In sy outobiografie vertel hy hoe hy en sy gesin tydens die Tweede Wêreldoorlog vasgekeer is in Duitsland, waar sy vader, ’n Lutherse pastoor, met verlof was toe die oorlog uitgebreek het. Eers na 11 jaar kon die gesin terugkeer na Keetmanshoop in die ou Suidwes-Afrika, waar die jong Gerhard baie vinnig Afrikaans en Engels moes aanleer, want hy kon nie een van die twee tale praat nie.
In sy standard nege-jaar ontvang Gerhard ’n beurs om op Paul Roos Gimnasium sy skoolloopbaan te voltooi. In sy matriekjaar wen hy onverwags die debatskompetisie teen ene Jan “Bek” (Old Boys sal wel raai wie dit was!), wat wys hoe goed hy Afrikaans bemeester het.
Met ’n onderwysbeurs studeer hy verder aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy aktief by die studentelewe betrokke geraak het en onder meer in die US koor gesing het, as kunsredakteur op Die Matie-redaksie gedien het, en ’n ywerige stapper en skaakspeler was. Wat hom opgeval het van sy studentejare was die konserwatisme van daardie tyd, maar akademici soos prof Johannes Degenaar het vir hom uitgestaan.
Hy trou met Andree-Jeanne de Klerk en keer terug Suidwes toe vir ’n kort onderwysloopbaan. In dié tyd word hy bewus van die geleidelike swart versetstryd teen blanke oorheersing.
In 1963 is hy Duitsland toe vir nagraadse studies en het aan ’n meestersgraad in geskiedenis begin werk. Dit is gevolg deur ’n kort loopbaan as joernalis by Die Burger, voordat hy in 1967 as dosent in politieke wetenskap by die US aangestel is.
Hierdie jare is gekenmerk deur sy geleidelike oorgang van Nasionale Party-lid na Swapo-ondersteuner. Sy werk aan sy doktorsgraad oor die politieke ontwikkeling van Owamboland en verdere navorsing vir ’n boek oor die politiek in die ou Suidwes-Afrika en politieke uitsprake het hom en sy gesin onder die aandag van die ou veiligheidspolisie gebring.
Hy aanvaar in 1979 ’n professoraat in politieke wetenskap aan die Universiteit van Transkei. In 1987 keer hy terug na Suidwes-Afrika, waar hy tydens en na die boeiende oorgang na onafhanklikheid eers as akademikus en toe in die politiek self ’n aktiewe rol gespeel het, veral as bemiddelaar en brugbouer.
Sy outobiografie is ’n belangrike bydrae tot die geskiedskrywing van Namibië rondom en na onafhanklikheid.
Gerhard Tötemeyer het in sy lang loopbaan verskeie werke en publikasies geskryf. Hy en sy vrou het na sy aftrede in Hermanus kom woon.
Hugo Truter
