Edition / Uitgawe Sep 2018

Helene van Wyk, staatmaker oor meer as ‘n halfeeu

Foto by skool: Hugo Truter

The Old Boys Union announced that it is going to name its new benevolent fund after Helene van Wyk. The fund will have a glamorous launch on 1 March next year and a competition is already underway to ensure that the fund will have a sound financial footing then. But who is Helene van Wyk?

Baie Old Boys sal Helene op meer as een manier onthou: koshuismoeder, skoolsekretaresse, funksiekoördineerder en ondersteuner van die OSU. Meeste sal ook haar man, Ockie van Wyk, geliefde oud-onderwyser en jare lange rugby-afrigter in herinnering roep. Hy het haar ongelukkig reeds etlike jare gelede ontval.

Die Welwillendheidsfonds het drie oogmerke:

  • Hulp met beurse vir behoeftige skoliere;
  • Bystand aan hulpbehoewende Old Boys het sy finansieel of emosioneel ; en
  • Hulp aan skoliere en Old Boys om werksgeleenthede en ander hulp te kry.

Ons het hierdie passievolle vrou uitgevra oor haar jarelange betrokkenheid by die skool en watter rol die Welwillendheidsfonds kan speel.

Jy het ‘n besonder lang verbintenis met Paul Roos. Waar het dit alles begin? Oor die jare het jy in verskeie hoedanighede by die skool gedien: vertel ons ook meer daarvan.

Ockie het in die eerste kwartaal van 1966 ‘n pos as aflos vir Wessel Volschenk, wat met die eeufeesvieringe gemoeid was, by Paul Roos aanvaar. Hy wou daarna met sy nagraadse studies voortgaan. Die pos het toe sommer permanent geword. Geen verdere studies! Ek het in Bellville skoolgehou en ons is in 1969 getroud. Ockie het vanaf die begin in Prima-koshuis gebly en later koshuisvader geword. Net daar word ek ‘n koshuismoeder. Daardie jare moes ‘n vrou ophou skoolhou as sy trou, al het sy vier jaar onderwys gegee.

Aanvanklik was dit baie vervelig in die koshuis en ‘n geweldige aanpassing met net mansmense rondom my. Die ergste was die eerste keer wat ek in die eetsaal moes gaan eet. Ian Sutherland was toe hoofseun van die koshuis in 1970 en het my amptelik kom haal in die woonstel. Ek het later waargeneem as skoonmaakmatrone – het eintlik maar net gekyk dat die kamers netjies is. Ansonet en Johan is in hierdie tyd gebore.

In 1975 trek ons toe na die rektor se woning, toe mnr Dawid de Villiers tot inspekteur van skole bevorder is. Ockie is toe superintendent van die koshuise en ek hoofmatrone, baie jonger as die matrones in die koshuis. Dit was ‘n baie goeie, maar stresvolle leerskool. Ons trek middel 1975 na ons eie huis, waar ek tot sowat vier jaar gelede nog gebly het.

In die begin van 1976 vra die skool my om af te los in die pos van ‘n sekretaresse wie se man toe verplaas is. Nog ‘n stresvolle leerfase, want ek het nog nooit so iets gedoen nie. Halfpad deur 1978 hou ek op met werk met die koms van Corene, wat in Oktober gebore is. Ek maak toe maar kinders groot.

In Februarie 1980 kom ek weer in die pos van skoolsekretaresse aflos. Paul Roos het toe nog sy eie skoolraadskantoor gehad. Dit het baie van die werk behels wat die Onderwysdepartement nou doen. Ons en SACS was die enigste skole in die Wes-Kaap wat sulke kantore gehad het. Dis maar deel van die geskiedenis, want die universiteite van Kaapstad (UCT) en Stellenbosch (US) het uit hierdie twee skole ontstaan. Dié kantoor het later gesluit, maar ek het aangebly en los vandag nog steeds af!

Intussen het ek voortgegaan met die werk wat ek in die skoolkantoor gedoen het en het met die WKOD saamgewerk. Selfs koshuisaansoeke hanteer. By ‘n skool doen jy mos maar wat oor jou pad kom. In Japie Coetzee se tyd moes ek die eerste paaltjies verf met die name van die rugbyvelde by Markötter.

Later was ek ook betrokke met die fondsinsamelingsprojekte onder leiding van Bill Moolman vir die bou van die pawiljoen en die klubhuis by die nuwe Marköttervelde. Saam met alles het daar ook die reël van funksies gekom, hoewel baie minder as nou. Die funksies het net al meer geword, veral met die “nuwe” Markötter. Ek is toe gevra om aan te bly in die hoedanigheid wat ek vandag is (moes aftree met pensioen). En ek is nog steeds hiermee besig.

Hoe het die skool se karakter en aard oor die jare verander, behalwe dat leerlinggetalle meer as verdubbel het?

Omdat die skool so groot geword het, het die “familiegevoel” wat daar altyd onder personeel was, verminder. Mense het net nie meer tyd om so baie dinge saam te doen nie. Leerlinge ken ook nie meer so baie van die ander Paul Roosers nie. Ons het regtig baie dinge saamgedoen en daar was altyd ‘n geweldige onderlinge ondersteuning, waarvan ek kan getuig. Dis maar net hoe meer mense, hoe meer verskillende belangstellings. Die tradisies van die skool staan nog sterk en sal altyd wees. Ek is baie geheg aan die skool se tradisies en sal altyd wees. Hoe sê hulle, een keer ‘n Paul Rooser, altyd ‘n Paul Rooser.

Watter hoogtepunte sal jou bybly uit jou jare by Paul Roos?

Die hoogtepunt in 1966 was definitief die Eeufeesvieringe. Jy begin skoolhou en skielik moet jy al hierdie wonderlike konserte en funksies bywoon. Ek het baie groen gevoel, maar dit sal my altyd bybly. Ook die jaarvergaderings van die Old Boys wat daardie tyd in die vierkant gehou is, was aanvanklik in getal net sowat agt van die plaaslike boere van daardie tyd en hul vroue. Ockie moes braai. Hulle het dan gou in ‘n klaskamer gegaan, na 5 minute uitgekom en gesê die komitee is herkies. Nou kan ons kuier! Ek het ook in 1980 vir Willie Visagie (wetenskaponderwyser) gehelp om die OSU weer aan die gang te kry. Die ledelys het bestaan uit een foliovel van name en die lewenslede was maar tien name. Ek het van daardie tyd af ook die Old Boys se werk gedoen. Kan nie onthou in watter jaar ek hulp gekry het nie. So is die eerste golfdag dan ook begin.

Vertel ons meer van jou ander belangstellings naas jou bedrywighede by die skool.

Ek hou baie van mense en verkies klein groepies, nes my gesin, ook maar ‘n klein groepie. Ek en die kinders was mos maar van vroeg af baie op mekaar aangewese. Toe Ockie oorlede is, was die kinders maar onderskeidelik 6, 11 en 14 jaar oud. Ek het net een suster. My familie is vir my kosbaar. Ek hou van reis en gaan gewoonlik oorsee so elke vier jaar, saam met agt vriende. Heerlik! Ek lees baie graag, veral kosboeke, hou van kos maak en kan lang aande om die tafel kuier. Ek help graag vir mense of waar daar ‘n behoeftes is.