Edition / Uitgawe Dec 2018

Allan Heydorn (1946) ry al 75 jaar lank fiets

Allan Heydorn is probably the oldest Old Boy still riding his bicycle. He even upgraded his ride recently. In this interview he reveals a bit more of his special relationship with bikes.Allan Heydorn (klas van 1946) meen hy is dalk die oudste aktiewe fietsryer op Stellenbosch, maar indien nie, is hy waarskynlik die oudste Paul Rooser wat nog fiets ry. Op die ouderdom van 88 het hy onlangs vir hom ’n e-bergfiets aangeskaf, en nou ry hy eers verder en vinniger. Ons het hierdie aktiewe en bekende Stellenbosser uitgevra oor sy liefde vir fiets ry.

Hoe lank ry jy al fiets? 

Sedert 1943, dit wil sê vir 75 jaar. Nou op die ouderdom van 88 jaar bly ek nog ’n geesdriftige fietsryer.

Vertel ons kortliks meer oor fiets ry in jou skooldae en universiteitsjare op Stellenbosch.

Ek moes altyd skool toe ry in wind en weer, eers van Rowanstraat in Mostertsdrift na die ou Stellenbosch Boys High en daarna na PRG, en ook op universiteit toe ek in Stellenbosch studeer het. Toe ek by die Universiteit van Kaapstad ’n honneursgraad gevolg het, het ek weens ’n tekort aan geld in Distrik 6 by ’n sendelinggesin gebly. Om daarvandaan na die Universiteit te trap, was erg nie net weens die weer, verkeer en bulte nie, maar ook omdat skollies saans ’n faktor was om mee rekening te hou. Toe ek verloof raak, moes ek my fiets verkoop om ’n ring aan te skaf.

Deur die jare het jy al baie fietse gehad. Waarmee ry jy deesdae? 

Dit was maar outydse fietse met Sturmey-Archer driespoed-agternawe. Deesdae ry ek met ’n Silverback Sola 1, en ’n Giant Dirt-e e-Fiets.

Waarom het jy juis vir jou ’n e-bergfiets aangeskaf? 

Ek was lank bevooroordeeld teen e-fietse totdat ’n vriend my syne laat ry het. Toe besef ek hoe lekker dit is en hoe groot die voordele van ’n e-fiets is in terme van doeltreffendheid, veral in sterk wind en teen steil bulte.

Wat is volgens jou die voordele van e-fietse? 

Doeltreffendheid, gemak en die feit dat jy betyds ’n afspraak kan nakom sonder om moeg, uitasem of natgesweet te wees. Voeg daarby ’n groter reik-afstand binne die beskikbare tydsbestek.

Hoe kan ons ons dorp meer fiets-vriendelik maak? 

Deur die netwerk van fietspaaie verder uit te brei. Waar fietse op bestaande sypaadjies toegelaat word, moet sowel fietsryers as voetgangers toegeeflik en hoflik teenoor mekaar wees.

Hugo Truter