Eat Out’s Chef of the Year for 2018 is Old Boy Kobus van die Merwe, who made his name by harvesting the ingredients for his dishes from the West Coast veld. He is also currently presenting a cooking show on television.
Die kok wat veldkos langs die Weskus en spesifiek afkomstig van die Strandveld op die spyskaart gesit het, Kobus van der Merwe van Wolfgat, is onlangs aangewys as Sjef van die Jaar op die tydskrif Eat Out se jaarlikse restauranttoekenningsfunksie.
Daarby het Kobus ook die vierde plek op die Top 20-lys van beste restaurante in Suid-Afrika ingeneem, en sodoende met nege plekke op hierdie ranglys opgeskuif. In 2017 was hy in die dertiende plek op die ranglys.
Kobus se ma, Santie, het ook ’n Paul Roos-verbintenis: Sy was in die jare sewentig musiekonderwyseres hier en het daarna vir baie jare musiek by Bloemhof gegee.
Santie en Abel, Kobus se pa, bedryf al 17 jaar die plaaswinkel Oep ve Koep op Paternoster en dis hier waar Kobus sy naam begin maak het deur veldkos wat hy self pluk, soos soutslaai en veldkool, op die spyskaart van die winkel se restaurant aan te bied. Hy het daarna Wolfgat in ’n ou gebou, bo-op ’n grot, oopgemaak.
In 2014 verskyn sy kookboek Strandveldfood, met resepte vir die veldkos en kruie wat ’n mens in die onderskeie seisoene aan die Weskus kan oes, asook skulp- en seekos.
Tans is sy TV-program Wolfgat Dinsdagaande op VIA te sien. Kobus het vir ons hierdie foto van hom en sy personeel, wat almal self ook in sy TV-program aan die woord kom, gestuur na ons hom namens die Old Boys gelukgewens het.
Lees meer oor wat die beoordelaars self sê oor Kobus se prestasie.
Hugo Truter
