Edition / Uitgawe Jun 2019

Digitalisering van PRG registers

Die afgelope 18 maande is ek en Rita Smit besig om die PRG registers te digitaliseer. Ek doen die toelatingsregisters, terwyl sy die bywoningsregisters tik. Dit het dringend noodsaaklik geword omdat die meeste navrae wat aan die argief gerig word, versoeke is vir inligting oor pa’s, oupas en grootjies wat in PRG was. Dikwels kon persone wat sulke navrae rig self baie min inligting verskaf. Die gevolg was gewoonlik tydrowende soektogte.

Sonder toelatingsregisters kan geen skool ’n volledige rekord van sy geskiedenis aanbied nie. Die Paul Roosers is immers Paul Roos Gimnasium.

Rita Smit was ’n geskiedenis-onderwyseres en is ma van twee old boys, Danie Smit (PRG Dux leerder in 1996) en Pieter Smit (PRG Dux leerder van 2001). Sy en haar man woon tans op Knysna.

Die onderstaande stuk is ’n kort skets oor haar ervarings met ons registers tot dusver.

Mariena Kotze, PRG Argief

Stemme uit die Argief

Hotze Ritze Woude, Kerry Beck en Garfield Krige… ken jy dalk een van hulle? Dit is name van Paul Roosers wat in die vroeë jare van die skool die gange bewandel en die skoolbanke beset het.

Wanneer ’n mens in ou skoolbywoningsregisters ronddelf, kan jou verbeelding sommer heerlik op loop gaan en prentjies vorm van ’n heel ander era en interessante gebeure uit die verlede op grond van name en vanne en soms ook huisadresse en plekke van herkoms.

Aanvanklik merk ’n mens op dat dit ’n era van lang familiename is: van die Johannes Jakobus Petrusse en Thomasse en kan jy jou voorstel hoe die onderwysers moes worstel om alles in die spasietjie van die register ingepas te kry.

Nog ’n verskynsel in dié tye is dat seuns soms vir een kwartaal skoolgegaan en dan verdwyn net om ’n jaar of wat later weer by die jaargroep waarmee hulle besig was, aan te sluit. Dit was in die tyd toe die skoolgeld vir ’n kwartaal (byvoorbeeld in 1896) sowat £2 15/6 beloop het. Kan dit wees dat hulle dalk moes uitsit omdat pa nie die nodige fondse gehad het nie? Moes hulle knap eers op die plaas gaan help?

Uit die eerste dertig jaar van die skool se registers blyk dit ook duidelik dat sekere families ’n geseënde aanwas van seuns gehad het. Daar gaan byna nie ’n kwartaal om sonder ‘n Bosman of ’n Krige-seun in die skool nie. Praat ons van name, dan is die algemeenste naam definitief Hendrik. ’n Mens kan maar sê dit was die “in” naam vir ’n seun.

Ook opmerklik was die groot getal Joodse seuns wat van die begin van die 1900s tot na die Tweede Wêreldoorlog by Paul Roos ingeskryf het. Elke moontlike mansnaam in die Bybel is teenwoordig. Nogal interessant om dit saam met al die Afrikaanse bybelname te sien. Eendersheid in diversiteit!

En dan kom ’n mens af op die name van vergange politici. Het Jan Smuts, JBM Hertzog en DF Malan soos honderde ander met Latyn, Matesis en geografie gesukkel? Sou die onderwyser wat Uys Krige as ’n klein standerdeenknapie registreer ooit kon raai dat hy ’n gevierde Afrikaanse digter en dramaturg sou word.

Waarskynlik nie, want die administrasie hou die onderwysers besig. Pligsgetrou word die vakansiedae aangeteken, soos koningin Victoria en Koning George se verjaardae, die dag toe die Groot Oorlog (WO1) beëindig is, en die dag van Koning Edward se kroning. So ook die tyd toe die skool moes sluit vanweë die Groot Griep van 1918…

Soms meld ’n onderwyser die afsterwe of ernstige siekte van ’n leerder. ’n Wa het oor hom gery

Dan was daar die begrafnis van die skoolhoof, meneer W. Milne, wat vroeg in die eerste kwartaal van 1896 plaasvind… en ’n spesiale dag vir Public Fast Decreed in Oktober 1895. En ’n mens wonder waarvoor almal so moes vas? Opmerklik is ook die lang rye a’s wat soos krale aanmekaar geryg is om afwesighede tydens ’n maselepidemie aan te dui.

Al bly skoolgaan dieselfde, is daar brokstukke inligting in sulke amptelike dokumente wat bewys lewer van spesifieke eras en vergete verhale in die geskiedenis van die skool, die dorp en die land.

So is daar ’n duidelike aanbod van al hoe meer seuns met Engelse vanne in die laaste jare van die 1800s. Was dit Britte in diens van Haar Majesteit wat in die kolonie kom woon het? Britte wat deel was van die goudstormloop of mense wat ’n nuwe lewe kom soek het op aanbeveling van die planmakers van die anneksasie van die Transvaal en die Oranje-Vrystaat?

Hoekom so baie Nederlandse vanne? Was hierdie seuns se vaders betrokke by die jong Victoria-kollege?

Ook uit die buurlande het die seuns letterlik duisende kilometers afgelê om hier te kom leer. Vanuit die destydse Noord-Rhodesië en Suid-Rhodesië en Duits Suidwes-Afrika het hulle gekom.

Elke ou dokument in die argief is ’n kosbare skat. ’n Rekord van die skool se unieke plek in die geskiedenis van die land, maar ook ’n rekord van geslagte se verbintenis met hierdie instelling. Die stemme in die argief sal altyd bly fluister, bly roep na navorsers, belangstellendes en bewaarders van kosbare herinneringe.

Rita Smit