Die organiseerders van die World Schools Festival, wat in Maart by Paul Roos Gimnasium plaasgevind het, het ons Old Boys uitgenooi om ’n Old Boy-rugbyspan in te skryf om teen ander Old Boy-spanne mee te ding. Die ander skole wat uitgenooi is, sluit in Grey Kollege, Paarl Gim, HJS Paarl, Affies en Hilton.
’n Paar weke voor die wedstryd was daar ’n geskarrel om ’n span bymekaar te kry aangesien die kriteria is dat spelers oor 35 moes wees en daar nie juis meer baie manne is wat op daardie ouderdom bereid is om hulle “body on the line” te sit nie. Maar onder leiding van Du Toit Serdyn, en na baie oortuiging, word ’n groep van 26 spelers byeengebring. Old Boy Riaan Cillie bied sy dienste as afrigter aan en groot raak die opgewondenheid toe ons geloot word om in die hoofwedstryd teen Grey Kollege te speel.
’n Rugbytrui word ontwerp en word op die Vrydagaand voor die wedstryd, en na die kapteinsoefening, aan elke speler oorhandig deur die huidige 0/19A-kaptein van die skool, Ruben Labuschagne. Tydens die kapteinsoefening was van die manne egter te vinnig uit die blokke en doen twee uithalerspelers, Claude Krige en Bastiaan van der Merwe, dyspierbeserings op. Dit demp egter nie die gees in die groep nie. ’n Laat inskrywing in die span is Wimpie Steyn wat eers na ’n lang intense gesprek met sy vrou besluit om ook ’n “comeback” te maak.
Die groot dag breek aan en laat die oggend draf die manne voor ’n opgewonde skare uit teen ’n sterk Grey-span wat onder andere bestaan uit Cheetahs Andries Strauss, Tewis de Bruin, Falie Oelshig, Bobby Joubert en Charl Blom, om net ’n paar groot name te noem. Gelukkig is een van die reëls van die wedstryd dat daar gebruik gemaak kan word van “rolling subs” wat beteken jy kan enige tyd ’n speler vervang en hom weer opstuur soos verlang. In ons geval het ons nie daardie voordeel gehad nie en moes ons met net nege reserwes klaarkom.

Van die begin af is dit ’n harde en seer affêre met geen genade wat betoon word nie. Neil Volschenk hou twee manne besig terwyl Anri Truter die een “tackle” na die ander insit. Du Toit Serdyn is ’n handvol in die lynstane. Agterlangs kom die manne met slim “moves” vorendag en “tackle” vir dood, met Wihan Neethling wat ’n spier in die proses skeur, maar Grey se Cheetahs speel al langer saam en uiteindelik vind hulle ’n gat of twee in ons verdediging om drie drieë te gaan druk.
Die kuier ná die tyd met die Old Greys, hul familie en ondersteuners maak egter die stampe en blou kolle en gekraakte tone die moeite werd. As in ag geneem word dat Grey gereeld saamspeel en dit maar ons eerste wedstryd was, was dit ’n hengse poging en word planne reeds gesmee om Grey in Augustus terug te kry.
Francois Schoombee

