Willem Grönum, graad 8
Die eerste rugbyspan van Paul Roos Gimnasium is op 5 Mei vanjaar by die Sanix-Wêreldjeugrugbytoernooi in Japan as die kampioen-skolespan bekroon nadat hulle in die eindstryd die gedugte span van St Peter’s College van Auckland (Nieu-Seeland) met 52-5 oorrompel het.
Dit is die grootste punteverskil in ’n eindstryd in die geskiedenis van hierdie toernooi.
Die span het 2019 reeds op ’n hoogtepunt begin deur stof te skop in die oë van sy Nieu-Seelandse teenstanders by die jaarlikse Wêreldskoletoernooi wat in Maart (tydens die Paasvakansie) by Paul Roos aangebied is.
Die span het tydens dié toernooi twee Nieu-Seelandse skole, naamlik Southland Boys’ High (93-5) en Napier Boys’ High (62-7) in twee baie opwindende wedstryde min of meer verfrommel.
Ná die Wêreldskoletoernooi het die span op 23 April Japan toe vertrek om aan die Sanix-Wêreldjeugrugbytoernooi te gaan deelneem.
Die manne het ses wedstryde in agt dae gespeel.
Dit het goeie beplanning, uitstekende spanwerk en ongelooflike uithouvermoë geverg om so ’n moeilike skedule suksesvol aan te pak. In hul eerste twee wedstryde het hulle Kyoto Kogakuin High School (Japan) en Enisei-STM (Rusland) met onderskeidelik 49-7 en 54-5 geklop.
Op dag 4 van die toernooi het hulle teen Toin Gakuen High School (Japan) gespeel en met 34-14 die kwarteindstryd gehaal.
Op dag 5 het hulle Exeter College (Engeland) met 75-0 geklop in waarskynlik die beste wedstryd van die toernooi. Die Engelse het nie lekker geweet wat hulle getref het nie.
Die Maroen Masjien het toe teen Waverly College van Australië in die halfeindstryd te staan gekom. Hulle het die Australiërs sommer vroeg al in die wedstryd gedomineer en uiteindelik met ’n telling van 41-21 die eindstryd gehaal.
St Peter’s College, die wenners van Nieu-Seeland se nasionale kampioenskap, het na vier minute die eerste drie van die wedstryd gedruk om met 5-0 voor te loop, maar daarna het die gang van die wedstryd totaal en al verander. Die manne van Stellenbosch het byna al die balbesit gehad. Paul Roos het terugbaklei en teen rustyd met 17-5 voorgeloop.
Losskakel Kade Wolhuter het ’n bydrae van 17 punte gelewer en woelige flank André Smit het twee drieë gedruk. Dit is ook die tweede keer dat die manne van Paul Roos die trofee omhoog hou nadat hulle dit in 2015 gewen het.
Hierdie span was ware Paul Roosers en trotse ambassadeurs vir Suid-Afrika.
