Edition / Uitgawe Nov 2019

Lang verwagte nuwe Roosinbosch en Splendidior gooi hul deure oop

Paul Roos Gimnasium spog vanaf Oktober vanjaar met ʼn kafeteria, Roosinbosch, en ʼn handelsmerk-winkel (“brand shop”), Splendidior.

Dit is sentraal geleë: onder die Japie Krige-saal waar daar vantevore ʼn redelik donker en soms onbenutte area was wat vir enigiets van fietsrakke, L.O.-kleedkamers, kluise vir kadettetoerusting, selfs ʼn Snoepie, tot ʼn Oom Polla-winkel ingespan is.

Die ruim nuwe kafeteria is ingerig met houtbanke waar leerlinge gesellig kan kuier en tafeltjies teen die kante met muurproppe waar leerders kan studeer; selfs na-ure, want Roosinbosch is van 07:00 tot 17:00 oop, en ook toeganklik vir ouers. Dit is so ingerig dat leerders daar rustig en veilig kan wag of werk tot ouers hulle later kan kom haal of busse hulle huis toe neem. Die talle reusefoto’s teen die mure gee ʼn besondere Paul Roos-karakter aan die lokaal.

Daar is selfs ʼn konferensielokaal vir vergaderings, meesterklasse en huiswerk na ure. Die kafeteria word deur Dawid Kriel van Red Pepper Spyseniering bestuur, self ʼn Old Boy van 1992. Volgens Dawid word hul spyskaart goed ontvang, en hulle beplan om vanaf volgende jaar ʼn volledige maaltyd per dag aan te bied vir leerders wat dit vooraf bespreek. Kan dit makliker vir werkende ouers gemaak word?

Splendidior word deur John le Corre van De Jagers bestuur. Hierdie winkel bied enigiets van skool- tot sportdrag en verskeie aandenkings soos serpe en sleutelhouers. Vanaf aanstaande jaar kan Old Boys ook al hul aandenkings, klere, ens, in Splendidior kom aankoop.

Splendidior is keurvol ingerig met foto’s uit die argief, leerbanke en tapyte, en die pragtige en elegante houtafwerking is iets om te aanskou.

By die openingsgeleentheid het rektor André van Staden gesê dit was nie ʼn maklike projek nie, gegewe die talle pilare en ander uitdagings. Die nuwe fasiliteite maak deel uit van die skool se meesterplan vir die herontwikkeling van die Paul Roos-kampus en voeg ongelooflike waarde toe.

Hugo Truter

Print Friendly, PDF & Email