Edition / Uitgawe Oct 2020

Sias Mey (1963) was ‘n mentor vir baie

Sias is op 16 Junie 2020 oorlede na ‘n merkwaardige loopbaan van 46 jaar as mediese praktisyn.  Die oorsaak van sy dood was nie Covid-verwant nie.

Hy en sy broer Theo was een van twee tweelinge in die 1963-matriekklas en hy was een van vier mediese dokters wat hierdie jaargroep opgelewer het.

Uit Krigeville se Ackermannstraat, dieselfde straat  waaraan die skool geleë is, het in daardie tyd altesame ses mediese dokters gekom, naamlik Rikus Schoonees (1954), Ivan Osrin (1956), Wilhelm Smit (1959), Sias Mey (1963), Chris Heyns (1966) en Francois Smit (1970). Vier van hulle is reeds oorlede.

Sias het net na matriek as Harvard-vlieënier gekwalifiseer en lank in Burgermag gedien. 

Sy mediese loopbaan het in die toenmalige Suidwes-Afrika begin waar hy tot die posisie van superintendent van die staatshospitaal in Rundu gevorder het. In die middel jare sewentig het hy hom by ‘n praktyk in Stellenbosch as algemene praktisyn aangesluit. Gedurende die tagtigerjare het hy op Prins Albert gepraktiseer. 

Oor die laaste 24 jaar van sy loopbaan het hy hom op die veld van tuberkulose toegespits.  Hy het afgetree as ‘n spesialis-praktisyn in die behandeling van tuberkulose in die Suid-Kaap, die Klein-Karoo en die Overberg-streek.

Hy het leidingggewende bydraes tot die “TB Control Strategy and Program” van die Wes-Kaapse Gesondheidsdepartement gelewer.  Menige nagraadse student en primêre gesondheidspraktisyn kan getuig van sy kundige mentorskap en tutorskap.  Sy kennis oor die epidemiologie van TB asook sy ervaring in kliniese praktyk, maar veral sy ondersoekende ingesteldheid het hom ‘n gerespekteerde medewerker gemaak by lede van die Centre of Excellence for Biomedical Tuberculosis Reseach (CBTBR) se navorsingspan.   Die CBTBR-program is ‘n langtermyn-navorsingsinisiatief met nasionale en internasionale medewerkers op soek na metodes vir die beheer van tuberkulose.  

Theo Mey