

Wil jy graag na verloop van 50 jaar weer op jou spore terugloop en die Lenteloop van 1971-1975 herloop? Geniet jy dit om in die natuur te stap? Doen jy iets om die omgewing te beskerm? Geniet jy dit om met klasmaats en skoolmaats te praat? Jy hoef nie van al drie hierdie aktiwiteite te hou om in te skryf vir die Lenteloop in die Jonkershoek Natuurreservaat op Saterdag 4 September nie.
Jy mag ‘n familielid, vriend, kollega of buurman saambring selfs al was hulle nie in PRG nie – deelname is oop vir enigeen wat daarvan hou om in die natuur te stap.
Aangesien hierdie uitnodiging aanvanklik na die 1971-matrieks uitgestuur is en twee weke later na diegene wat van 1972 tot 1975 aan PRG gematrikuleer het en ‘n maand later na alle ander PRG-oudleerders, sal die geleentheid waarskynlik grotendeels deur PRG-oudleerders bygewoon word. Cape Nature beperk (tans) deelname aan die Lenteloop tot 100 persone. Die eerste 100 wat hul inskrywingsgeld betaal, sal gevolglik toegelaat word.
Die Lenteloop sal om 07:30 begin. Stappers kan die sirkelroete (ongeveer 10km) stap òf hulle kan ‘n halfroete stap òf hulle kan net 100m stap en terugdraai. Cape Nature sal binnekort meer besonderhede oor die boomplanting verskaf (die perseel, die boomsoort en die grootte van die boompies). Hier is ook ‘n gulde geleentheid om bome te plant na die onlangse verwoestende brand in die vallei.
Die ontbyt by die Markötter-terrein sal om 10:00 begin. Die koste vir die Lenteloop is R250 per persoon: dit sluit in die toegang tot die reservaat – R50, ‘n bydrae vir die boompies – R100 en ‘n heerlike ontbyt R100.
Danie van Niekerk (1973) namens die reëlingskomitee.
