Edition / Uitgawe Jul 2021

Kans vir Kriges om meer te wete te kom oor familiegeskiedenis

Paul Roos Gimnasium is die skool wat nie net die meeste Springbokke opgelewer het nie, maar waarskynlik ook die meeste Krige-mans gevorm het.

Volgens Johan Krige, familiekurator en skrywer van Die Krige Annale, wat onlangs as die Familieboek van die Jaar aangewys is, het daar minstens sestig Krige-seuns hier skool gegaan. 

Die rede is dat die grootste bouer aan hierdie klein familie, Vader Jakob oftewel Jacob Daniël Krige, in die middel 1800’s op die plaas Welgevonden net buite Stellenbosch geboer het. Hy het twaalf seuns gehad en meeste van hulle het hulle in die omgewing as boere, sakemanne en amptenare gevestig. Een van sy kleinseuns was die Springbok-senter Japie Krige, ‘n oud-skolier, wat groot roem verwerf het in Paul Roos se 1906-toerspan na Groot Brittanje.

Vader Jacob se broerskind, ook ‘n Jacob Daniël, was die eerste Afrikaanssprekende onderwyser aan die Stellenbosch Gimnasium (nou PRG) en het as Oom Japie Home sulke diep spore getrap dat die Japie Krige-saal na hom vernoem is.

Hul nasate sal waarskynlik belangstel om hierdie boek – twee volumes in ‘n netjiese houer – te bekom. Bestellings kan via die webtuiste krigefamily.co.za gedoen word.

Die Genealogiese Genootskap van SA beoordeel jaarliks alle familieboeke wat verskyn het en maak dan ‘n toekenning aan die boek van hul keuse. Tydens ‘n virtuele byeenkoms op 13 Maart 2021 is ‘n hele aantal genomineerde boeke aan die gehoor getoon en een is toe uitgekies – Die Krige Annale!

‘n Groot deel van die huidige oplaag is al verkoop en na alle dele van die land en selfs die buiteland versprei. Gemeet aan die talle reaksies word Die Krige Annale baie goed ontvang. Old Boy Niel Krige skryf dat albei volumes ’n vaste plek op sy bedkassie het en sê Johan het daarin geslaag om die materiaal op ’n besonder gebruikersvriendelike wyse aan te bied.

Hierdie lys is met behulp van Mariena Kotze van die Argief opgestel:

Print Friendly, PDF & Email