Edition / Uitgawe Oct 2021

Lenteloop herleef in Jonkershoek

Na maande van beplanning het die Lenteloop van 1971 op Saterdag 4 September herleef toe 41 Paul Roos Old Boys en huidige leerlinge in die Jonkershoek-reservaat gaan stap het in ideale koel weersomstandighede. 

Die hoofdoel van die Lenteloop was om die samesyn met ou skoolmaats te geniet in dieselfde gees as die destydse Lentelope; ongeag of enigeeen 10km of 4km of 100m stap. Party manne het weliswaar ook net ‘n gedeelte van die sirkelroete gestap, en als het sonder enige teenspoed gemaklik afgeloop.

Agterna is gesellig verder gekuier in die Markötter-suite waar die stappers op ‘n heerlike ontbyt getrakteer is. Die Lenteloop is moontlik gemaak deur die entoesiastiese samewerking van Cape Nature en was die inisiatief van die 1973-klas wat veral sterk verteenwoordig was.  ‘n Klompie manne van die  1973-klas stap gereeld deur die jaar, wys net wat gedoen kan word.

Verskeie inheemse bome (onder meer twee Assegaaibome) is vooraf aan Cape Nature geskenk deur Old Boys asook die Munisipaliteit van Stellenbosch en in Boomplantweek op die Assegaaibosch-terrein geplant. Sowat 240 saailinge is ook aan graad 8-leerders geskenk en verskeie inheemse bome gaan ook binnekort langs die krieketveld by die skool geplant word (sien artikel oor die boomplanting by die skool elders). 

As dit van al hierdie geesdriftige stappers afhang, word die Lenteloop van nou af weer ‘n jaarlikse instelling. Die OSU is ook agterna gekontak deur Old Boys wat volgende jaar wil saamstap. Ons hou julle ingelig. 

Die Lenteloop 2021-span het die eerste van ‘n hele paar inheemse bome op die Assegaaibosch-terrein in Jonkershoek gaan plant. Die jong boompies is almal aangekoop en geskenk deur Old Boys. Heel regs staan Old Boy Pieter van Zyl (1973) en tans Hoof van die Departement Omgewingsake en Omgewingsbeplanning in die Wes-Kaap. Die lede van Cape Nature is van links:  Anele Mdleleni (kwaliteitsbeheer), Lesley-Ann Williams (betrokkenheidsbeampte), Johanita Alberts (bewaringsbeampte) en Michael Mhana (veldwagter).
David Cluver, John Houston, Ivan Laubscher en Charles Smithers , all  1971 Old Boys, had a mini reunion 50 years after their first Spring Walk
Agter van links staan Riaan Swiegers 1973), Piet van de Vyfer (1973), Willie Jonker (1975), Pierre du Preez (1972), Dawid Botha (1967), Braam Hanekom (1977), Sarel Steel (1973), Frank Meaker (1973), Pieter van Zyl (1973) en Nols Heunis (1973).