Edition / Uitgawe Apr 2022

Simon Ince se epiese swemtog

Simon Ince (1977) het op 20 Februarie van Miller’s Point by Simonstad na Rooiels geswem en sodoende die Guinness World Records gehaal as die oudste persoon (62) om dié moordende swemtog oor Valsbaai te voltooi.

Volgens ‘n berig in die Village News van 28 Februarie is Simon na die beste van sy wete slegs die agtste persoon wat die swemroete kon voltooi. ‘n Johannesburgse skoolseun, Kyle Stephens (17), het ‘n paar dae later (1 Maart) die negende persoon geword toe hy die afstand in 8 ure en 8 minute afgelê het. 

Simon het nog in die donkerte om 05:30 begin en 10 uur en 42 minute later op die strand uitgestap nadat hy ‘n afstand van 33 km geswem het.  

Dit was alles vir ‘n goeie doel. Hy het voor die tyd besluit om met sy swemtog bewustheid te bevorder oor die goeie werk wat die Tygerberg-Kinderhospitaal in Kaapstad doen.

Simon het groot geword in Somerset-Wes en beskou Valsbaai as sy “speelruimte”, waar hy vis geskiet, branders geroei en lang afstande oor die jare geswem het. 

Hy sê die legendariese Sparks Esterhuysen het ‘n groot invloed op hom as PRG onderwyser gehad. Sparks se woorde onthou hy nog goed: “Julle souties kan nie eintlik krieket of rugby speel nie, maar julle kan “f….n” goed swem!” In Sparks se tyd is swem se status verhoog en hy het ook waterpolo as sportsoort by die skool ingevoer.

Simon oorweeg  beslis nuwe uitdagings en sal ons inlig vorentoe oor wat hy beplan.

Lees meer oor sy swemtog, waarvoor hy vyf jaar lank voorberei het,  in die Village News:

“Not only is False Bay a breeding ground for great white sharks, but the water temperature is icy cold, and the ocean and weather patterns can be fickle. Simon says when he set off from Miller’s Point the temperature was around 13 degrees Celsius, which initially slowed him down but it gradually warmed up a little to around 16 degrees. “

Foto’s: Abri Kruger