Edition / Uitgawe Dec 2022

Christo Volschenk en ander Old Boys het groot rol gespeel om internet-joernalistiek te ontwikkel

Taking leave of his good friend an co-Old Boy Christo Volschenk (1970) on the steps of the Japie Krige Hall was also a good time for Piet Marais (1968) to reflect on the role Paul Roos Gymnasium has played in the development of journalism in South Africa, especially in using the Internet as medium.

Daar is geen ander plek op aarde as op die trappe van die hoofingang na die Japie Krige-Saal om van ‘n Old Boy soos Christo Volschenk (1970)  afskeid te neem en sy loftuiging te lewer nie.

Hy is vanjaar in die ouderdom van 69 jaar op Loxton oorlede.

Christo was in murg en been ‘n Paul Rooser en seun van Wessel Volschenk, beminde onderwyser in hout-en metaalwerk aan die Paul Roos-Gimnasium, ou Volla, soos ons hom geken het. 

Ek kan en mag dit sê, want ek het Christo baie jare geken. Ons het saam gewerk, saam gespeel en saam menige ete met ‘n voortreflike wyntjie geniet. Semper Splendidior was sy gunsteling uitdrukking. Hy het dit min en reg gebruik. 

Christo was ‘n grootse joernalis. Hy sluit in die skoolargief aan by oud-leerlinge wat spore van egte verslaggewing getrap het. Hy is ‘n gees soos Piet Cillié en Schalk Pienaar. 

Wat is dit wat ons onderwysers reg doen?

Hoekom is daar ‘n Pieter du Toit?

Wie gaan volgende wees?

Christo se pa was Volla en Christo was Vollie. Vollie troon as joernalis uit omdat hy nie net in die verbruikers-, politieke en finansiële joernalistiek uitgeblink het nie, maar sowat 25 jaar terug die eerste weë in die moeilike en toe nog onbekende Internet-joernalistiek gebaan het. Hy het die nuwe media entoesiasties aangepak.

Daar was struikelblokke. Christo het sy beskeie aanhang aan joernalistiek, veral finansiële en ekonomiese beriggewing, gestand gedoen. Hy het Paul Roos soms  aangehaal:

 ”Let your stumbling blocks become your stepping stones.” 

Ou Vollie het ontelbare artikels geskryf en baie pryse gewen. Sy loopbaan verg ‘n boek. Dis hoekom ek ‘n webruimte gebou het, ter gedagtenis van ‘n mens soos Christo. Systap sy beskeidenheid vir die nageslag.  

Gaan kyk na Tuisblad | My Site 3 (pietkoerant.wixsite.com).

Elza van der Walt, stille aanvoerder van Old Boys, het gereël dat Frans van Niekerk, vise-rektor, drie van ons op 20 Oktober vanjaar by die Japie Krige-saal ontmoet. (Op sigself ‘n eer, dankie Elza.) 

Dit was die dag van Christo se begrafnisdiens. Elza het geweet dis kort voordat ek die lofrede in die kerk op Stellenbosch sou lewer. Niël du Toit, wat vir my en Christo in 1968 ‘n jong Skeinat-onderwyser aan die PRG was, en Paul Louw, ou skoolmaat en mede-inwoner van Prima, was aan my sy.  Niël is meer as ‘n oud-onderwyser. Hy is ‘n hegte vriend. Ons het saam  die kontreipad die land-in gevat. Paul is my boesemvriend.

Ek het Christo op skool ontmoet. Hy was in 1970 in Matriek, ek in 1968. Ons was albei redaksielede van Semper. Hy was ‘n stillerige outjie wat ‘n barshou tennis kon speel en nogal in die debatsvereniging sy plek op die vloer kon inneem. 

Mnr. Frans van Niekerk, onderhoof, het ons daar voor die Japie Krige ontmoet en verskeie nuwe ontwikkelinge in die skool gaan wys. Dis die naaste aan Gods wonder, sou oom Dirk Swart, ou Fifi, my eerste koshuisvader, gesê het. 

Dit kan nie net instink wees wat ons na ou Volla se klas gelei het nie. Dis veel meer. Ou Volla se klaskamer is nou ‘n sentrum vir voorpunt-tegnologie. Christo was met sy dood besig om op Loxton in die Karoo ‘n versameling van 3000 boeke oor die omgewing in ‘n vertoning met multi-media te omskep. Hy het ‘n aanvoeling vir vernuwing gehad. 

Ek het ná skool vir Christo in 1986 by Beeld in Johannesburg herontmoet en goed leer ken. Hy was redakteur van ekonomiese beriggewing, ek stelselredakteur wat redaksies van tikmasjiene na rekenaars gelei het. Ons het vir die res van ons lewens kollegas, vriende en geesgenote geword. 

Afskeid is nie net weemoed nie. Daar is goeie herinneringe. Terwyl mnr. Van Niekerk ons na ou Volla se klaskamer gebring het, het hy langs my kom stap en opgemerk hy ken vir Niël du Toit. Hy wil dit net plaas.  

Dit blyk toe dat Niël in 1974 Frans se Skeinat-onderwyser aan die Hoërskool Kalahari was. Frans was toe in st. 8. Afskeid en ontmoeting. Wat ‘n goeie begin vir ‘n loftuiging, dag ek by myself. 

Toe Naspers die publikasie Tegniek in die laat jare tagtig van Rembrandt oorgeneem het, is Finansies en Tegniek geloods. Christo, wat B.Comm LLB en Ekonomie geswot het, was ‘n stigterslid en eerste assistent-redakteur. Ek het later Kaapse redakteur geword.

Christo het verskeie pryse vir finansiële joernalistiek gewen, o.m. die gesogte Sanlam-prys.Hy het ook ‘n prys gewen wat hom ‘n paar maande se werk in New York se Twin Towers besorg  het, gelukkig ‘n hele paar jaar voor 9/11. 

Naspers het my in 1996 as die groep se redakteur van nuwe media aangestel om saam met die projekleier, Philip Meyer, elektroniese ingenieur, die eerste Internet-strategie aan te pak. Een van ons eerste stappe was om Christo te betrek om finansiële webruimtes te ondersoek. 

Ons het geluk getref. Hugo Truter (1974), nog ‘n Old Boy, was toe reeds lid van ‘n kernspan wat Naspers aangestel het om multimedia-produkte soos CD-Roms te  vervaardig. Hy was eers uitgewer by Tafelberg. 

Tot in daardie stadium het niemand nog die Internet ernstig opgeneem nie. Christo en Hugo, onderskeidelik ekonomie-redakteur en uitgewer, het die potensiaal van die Internet raak gesien. Wat toe gevolg het, beskryf Hugo as die dae van die Wilde Weste van die Internet.

“Die Internet-span is vir opleiding na Boston in Amerika gestuur, en hulle het die eerste volwaardige Internetportaal 24.com in Suid-Afrika tot stand gebring – met baie geesdrif en energie,” aldus Hugo. 

“Baie van die aanvanklike sport-,  kuns-  en finansiële blaaie het gekom en gegaan, maar van die belangrikstes in daardie pionierdae wat bly floreer en voortbestaan het, was seker die nuuswebwerf News24, wat binne ‘n paar jaar die grootste webwerf in die land sou word en Litnet, die gewilde letterkundige webwerf  in samewerking met Etienne van Heerden,” vertel Hugo, wat nou nog op die Internet bedrywig is.

Christo het in dié tyd met ‘n Duitse ginekoloog,Christine, getrou en na Stuttgart getrek. Dis waar sy loopbaan as vryskut-joernalis en steun vir Christine geblom het. Sy dogter, Kira, was sy hart en siel. Hy was o.m. ’n redakteur van die AIM groep, wat internasionale ekonomiese inligting vir lesers analiseer. 

Daar is baie meer te vertel. Dis die lekker ding van die Internet. Dit hou nie op nie. Gaan lees op Tuisblad | My Site 3 (pietkoerant.wixsite.com). Daar word baie gesels en geredekawel. 

Die ontmoeting by die Japie Krige-saal en die besoek aan ou Volla se klaskamer was die inleiding tot Christo se lofbetuiging wat ek in in die Christ Church in Banghoekstraat gelewer het. 

Agterna het ons in die Stellenbosch Klub, ‘n bymekaarkomplek vir talle Old Boys, Christo se  lewe gevier. 

Dit sal nog baie gebeur.

Semper Splendidior, ou Christo.

Piet Marais (1968)

Willem Cillié, Lood Rabie, Francois Smit, Christo Volschenk, Pierre Goosen en Johan Pauw was lede van die Voortrekkerspan Swartwitpense, wat op 30 April 2022 ‘n reünie in Pringlebaai gehou het . Drie spanlede kon nie daar wees nie: Bertie Oosthuisen, Danie Brink en Christo Theron