Edition / Uitgawe Dec 2022

Die Familie Krige vier 300 jaar in Suid-Afrika

There is good reason why the family Krige is celebrating its 300 years on African soil in Paul Roos Gymnasium’s Japie Krige Hall. The family played a major role in establishing the school and Japie Home was in 1866 one of the first learners to get his education here. He later became the first Afrikaans speaking teacher at the school and served as rector Paul Roos’s vice. The hall was built in 1948, three years after the school was moved to its current location on the farm Welgevallen.

Paul Roos-gimnasium se Japie Krige-Saal is nie om dowe neute die vergaderplek van die familie Krige wanneer sowat 150 van hulle op Saterdag 17 Desember 2022 bymekaar kom om die aankoms van die stamvader meer as driehonderd jaar gelede in Suid-Afrika te herdenk nie.

Soos die naam van die saal aandui, is daar ‘n noue band tussen die familie en Paul Roos-gimnasium.

Dit strek terug na ‘n besluit in 1858 om ‘n teologiese kweekskool op Stellenbosch te stig.  Gou is daar besef dat so ‘n inrigting ondersteun moet word deur die vestiging van ‘n gimnasium, oftewel ‘n skool waar daar ook hoër opvoeding aangebied moet word.

Vervolgens is ‘n donasielys deur die gemeente gestuur en aansienlike ondersteuning is ontvang vir die oprigting van ‘n gimnasium. Die stigtingsvergadering vind plaas in 1864 en kan beskou word as die amptelike ontstaan van die seunskool en die latere universiteit.

Verskillende geboue in die middedorp sou oor jare benut word totdat die huidige kompleks op die plaas Welgevallen in 1945 in gebruik geneem is. Nog drie jaar later is die skoolsaal ook voltooi en na een van die onderwysers, Japie Krige, vernoem.

Hierdie Japie was die eeste Krige-skolier wat hier ingeskryf is. Later word hy ook die eerste Afrikaanssprekende onderwyser aan die skool en sou 40 jaar lank ‘n gesiene en beminde onderwyser aan die skool wees.

Die Krige-familie het vanaf die skool se begin ‘n besonderse band met die PRG.

Japie Krige vanaf Prins Albert het reeds in 1866 as skolier ingeskryf. Daarna het die stroom toegeneem, veral seuns van die drie familie-plase Vredelust [7], Libertas Parva [5] en Oude Libertas [6] het die familie goed verteenwoordig. Daar was ook ander skoliere van die dorp [4] en van buite die dorp [6] wat voor 1900 ingeskryf het. 

Na 1900 het nog sowat 60 Krige-seuns Paul Roosers geword, wat die totaal tot op datum na sowat 90 opskuif. Selfs vandag is daar Kriges van die familie se tiende generasie op PRG!