Edition / Uitgawe Dec 2022

Veritas-oorkonde aan Olla Olivier toegeken

Christo Pienaar, Nuy Kelder se bestuurder/wynmaker en voorsitter van Veritas, oorhandig die oorkonde aan Olla.

Old Boy Andries (Olla) Olivier (1963) received the Veritas Society’s Living Legend Award on 8 October 2022 for his contribution to the South African Wine Industry and to the building of a unique and quality wine offering the world over. After completing his degree in winemaking and viniculture, Olla began his career at the Orange River Wine Cellars, but steadily moved southwards and is today at the Clear Moutain Wines in Stellenbosch. At the age of 78 he is still responsible for identifying and buying wine in bulk for his company.

Andries Olivier (1963), wat oor al die jare steeds Olla gebly het vir sy ou klasmaats en sy sakevriende in die wynbedryf, het nou handelsmerkstatus verwerf.

Op Saterdag 8 Oktober 2022 het die Veritas Vereniging die instansie se Lewende Legende Oorkonde aan Olla toegeken as erkenning en waardering vir sy werk en toewyding aan die Suid Afrikaanse wynbedryf.  

Die oorkonde is in 2009 ingestel om erkenning te gee aan leiers in die wynbedryf wat op verskeie terreine ‘n bydrae oor ‘n lang tydperk gelewer het “in the building of a unique and quality wine offering the world over”.   

Die sitaat wat in die oorkonde weergegee word, meld dat Jan van Riebeeck in Februarie 1659 die eerste druiwe in SA gepars het en in hierdie spoor het Olla met sy graad in Wingerdbou en Wynkunde begin stap. 

By Oranjerivier Wynkelder in Upington, nie ver van sy geboorteplek Prieska nie, het hy as assistent-wynmaker die wynmaker-beat begin loop. En sedert 1974 was hy 21 jaar lank kelderbestuurder/wynmaker by Romansrivier Wynkelder te Wolseley waar hy ‘n mentor vir vele jong wynmakers was.  

Gedurende die jare negentig het hy erkenning gekry as wynbeoordelaar.  Van streekwynskoue het sy goeie neus en smaaksin vir wynkwaliteit hom gou ‘n plek besorg op die SA Pinotage Vereniging se beoordelaarspaneel.  

Na ‘n kort dienstyd as produksiebestuurder by Swartland Wynkelder, waar hy getoets is aan die internasionale standaarde van wynuitvoer na die Verenigde Koninkryk en Europa, sluit hy in die jaar 2000 hom by Clear Mountain Wines op Stellenbosch aan.  

Hy konsentreer in latere jare hoofsaaklik op die plaaslike mark, maar Olla was  jare lank ‘n bekende gesig op internasionale wynskoue waar die integriteit van kwaliteit en die betroubaarheid van lewering die toetsteen vir suksesvolle wynbemarking verteenwoordig het. 

Op 78-jarige ouderdom is hy steeds verantwoordelik vir die identifisering en verkryging van grootmaat-wynaankope en verkope vir sy maatskappy.  

Olla, jy is ‘n waardige ambassadeur van ons alma mater en sy leuse: Semper Splendidior!

Theo Mey (1963-klasmaat)