Edition / Uitgawe Apr 2023

Blomme en pet vir negentigjarige Francois Retief (1949)

Old Boy Francois Retief (1949), ‘n voormalige Rektor van Kovsies en Rhodesbeursstudent, is deur die Oudskoliere-Unie (OSU) met ‘n bos rose en ‘n keppie verras.

Meer oor hierdie merkwaardige mens kan gelees word deur hier te kliek: https://prabook.com/web/francois_pieter.retief/339911

Prof Francois Retief woon tans in ‘n Bloemfonteinse ouetehuis waar hy versorg word deur sy vrou, Ria, en personeel. Hy leef met dementia, maar is steeds ‘n absolute waardige PRG Old Boy.

Die rede vir die verrassingsbesoek op 1 April deur Emiel Jonker (1992) word goed verwoord deur argivaris, Mariena Kotzé se stukkie lewenswysheid in die 150 Jaar-gedenkboek (p237):

“As ‘n mens nou die (ou) jaarblaaie deurlees, dan kom jy onder die indruk van die onafgebroke golf van bedrywighede waarop ‘n skool gedra word. Daar is geen stilstand en geen rus nie, geen begin en geen einde nie. Slegs onderwysers en leerlinge kom en gaan, word oud en verdwyn – maar die skool as lewende organisme ken net groei en beweging, ken net die skaterlag en die geesdrif van die mens in sy ewige jonkheid…”

Emiel vertel hy het sowat twee ure lank lekker by prof. Retief en sy vrou Ria gekuier. “Ek het ‘n ekstra Paul Roos-pet by my huis gehad , wat ek sommer ook (saam met die blomme) vir die Oom gevat het. Hy het dit vreeslik waardeer!”

‘n E-pos van tannie Ria aan Emiel later getuig van ook daarvan: “Duisend dankies vir die heerlike besoek aan ons en die pragtige ruiker rooi rose. Die pet het vir Francois baie beteken. Na jou vertrek het hy lank in die sitkamer gesit met die pet op. Hy het later vertel dat hy die verlede in sy geestesoog opgeroep het en daaraan gesit en herkou het!”