Edition / Uitgawe Apr 2023

Digitale “plakboek” trek aandag

The idea to create a digital scrapbook for the 1973 Class’s fiftieth reunion, turned into a very popular and successful blog. Read more about this project below.

Dit was 1973- hoofseun Skip Krige se idee om ‘n digitale plakboek vir sy klasgroep se vyftigste reünie te skep wat met ‘n druk van ‘n knoppie op iemand se selfoon, tablet of tuisrekenaar bekyk kan word.

Min het gedink dit sou verwesentlik word, maar binne twee maande na loodsing is https://prg1973.co.za/ al sowat 500 keer besoek en die gemiddelde tyd wat met elke besoek aan die lees van die blog bestee is, beloop sowat vyftien minute, wat in terme van digitale tydsbesteding merkwaardig is.

Terugvoering van lesers is dat hulle dit uiters boeiend vind en nie kan ophou lees nie, want dit gaan oor mense en elkeen het ‘n storie. Op 68, die gemiddelde ouderdom van die klas, het jy mos nie nodig om iets weg te steek nie en het die redaksiekomitee die lede van die klas aangemoedig om met die hele sak patats vorendag te kom.

Die leser gaan beslis ‘n traan of twee wegvee oor sommige van die vertellings, lekker lag oor byna-vergete stories en trots wees op wat van die lede van dié groep bereik het.

Hopelik gaan daar nog vele bydraes tot die blog gelewer word, maar dit is al reeds ‘n ryk bron oor die geskiedenis van die skool, die waardes wat dit bevorder en die balans wat gesoek word tussen die akademie, kultuur en sport, met die hooffokus op die manne van 1973 en hul onderwysers. In die samestelling hiervan is daar in die argiewe rondgegrawe.

Baanbrekerswerk is deur Skip en sy redaksiekomitee gedoen en in die proses is hulle bygestaan deur Solid Stuff Creative Studio, die digitale ontwerp- en kommunikasiespan wat ook by die Old Boys se Nuusblog al vanaf 2015 betrokke is.

Tyd is die grootste kostefaktor wat by die samestelling van ‘n blog betrokke is, maar daar moet ook ‘n webtuiste geregistreer word. Kontak info@solidstuff.co.za vir meer inligting as daar ander groepe is wat belangstel om so iets te doen.