Edition / Uitgawe Apr 2023

Klas van 1973 sorg vir merkwaardige tien dae lange 50 jaar-reunie

Hierdie samevatting is ‘n baie verkorte weergawe van Pieter van Zyl se terugskouing wat op hul blog verskyn: https://prg1973.co.za/

Die klas van 1973 het vanjaar ‘n besonderse reünie gevier, en hul bedrywige program gaan moeilik geklop word, plus hulle het in die proses ‘n voortreflike blog geskep wat voortdurend bygewerk word.

Die reëlingskomitee (RK) wat hierdie spesiale geleentheid beplan het, het bestaan uit Pieter van Zyl, Nols Heunis, Michael Prins, Riaan Swiegers, Kobus Theron, Frank Meaker, Leon Mostert en Danie van Niekerk.

Daar is besluit om ‘n “modulêre” benadering te volg in die opstel van die reünieprogram, Die onderliggende gedagte was dat elke persoon dan self kon besluit watter modules en/of aktiwiteite hy (en sy gade of metgesel) wil bywoon. Na oorlegpleging met die 1973-manne via Google vraelyste, het die RK op twee modules besluit: ‘n “Sederberg Module”, wat sou plaasvind tussen 24-27 Februarie 2023; en ‘n “Kernmodule” op Stellenbosch, wat sou plaasvind tussen 28 Februarie en 1-5 Maart 2023.

‘n Totaal van 20 manne tesame met 10 van hul gades het die Sederberg-naweek bygewoon. Die naweek is afgeskop met ‘n bierproe en braai by Sanddrif en die Saterdag het ‘n groepie die Wolfberg-skeure aangedurf en die res het rustiger uitstappies onderneem, waarna ‘n wynproe by Cederberg-wynkelder gevolg het. Die Sondagoggend is die Disa Pool-staproete aangepak, lekker in die kuile geswem en die aand het almal weer heerlik saamgebraai.

Terug op Stellenbosch is die saalbyeenkoms op Dinsdag 28 Februarie bygewoon, gevolg deur ‘n boomplantseremonie langs die nuwe krieketveld. Op Woensdag 1 Maart, die skool se 157ste verjaarsdagviering, is die kransleggingseremonie by die stigters se standbeelde bygewoon, gevolg deur ‘n besoek aan die Argief en ‘n skooltoer.

Op Donderdag 2 Maart is ‘n omvattende wynproegeleentheid by Simonsig gevolg deur ‘n ligte ete. Die Vrydag het twee krieketspanne mekaar aangedurf volgens ‘n unieke stel reëls. Daarna is almal na Markotter vir ‘n eg tradisionele middagete in die vorm van ‘n heerlike snoekbraai.

Op Saterdag, 4 Maart, het ‘n groep van 55 manne, gades en oud-onderwyser David Taylor aangetree by Coetzenburg om deel te neem aan die Bergpadstap van 6 km. Dit was perfekte stapweer.

Die hoogtepunt van ons reünie was ongetwyfeld die dinee in die Markötter-klubhuis se suite op Saterdagaand, 4 Maart. Die getal persone teenwoordig by die dinee het aangegroei tot 66, terwyl die volgende spesiale gaste ook teenwoordig was: rektor André van Staden, oud-onderwysers David Taylor en Henry Ekron, Elza van der Walt en Mariena Kotze. Twee manne wat van ver af spesiaal ingevlieg het om die dinee by te woon was Jean-Marie Questiaux (België) en Dillie Malherbe (Londen, VK).

Herdenkingskerse is aangesteek vir die14 klasmaats wat ons reeds ontval het en gedenkpak-wyne van Old Boys is opgeveil. Skip Krige is ook bedank vir sy uitsonderlike bydrae met die skepping van ons dinamiese en interaktiewe aanlyn “PRG 1973 Blog”.

Terugskouend, het 50 van ons oorlewende 91 klasmaats ten minste een van die reünie-aktiwiteite bygewoon, ‘n bywoningspersentasie van 55% – heelparty van ons het die volledige program bygewoon. Inderdaad het die lede van ons klas van 1973 wat deelgeneem het aan die Reünie 50 ons harte opnuut oopgemaak vir ons Alma Mater en ons klasmaats van destyds.

Print Friendly, PDF & Email