
Dié spotprentvonds (hierbo) in PRG se skoolargiewe het omtrent ‘n kopkrappery afgegee, maar uiteindelik het dit ‘n interessante stukkie geskiedenis opgediep en ‘n verklaring gebied vir die oorsprong van die volksliedjie, Vat jou goed en trek, Ferreira.
Die spotprent het in die tydskrif Punch van 21 November 1906 verskyn en beeld ‘n ietwat verslae Paul Roos, kaptein van die Springbok-toergroep in Groot Brittanje, letterlik met sy rug teen die pale uit wat in gesprek is met ‘n koddige figuurtjie, wat as Referee Punch geidentifiseer word.
Dit was vyf dae nadat die Springbokke die eerste toets op die toer teen Skotland verloor het.
Die onderskrif lui soos volg:
ONS INVALLERS
Kaptein van die Springbokke: “Wat het hierdie Ferreira probeer doen met sy raap-en-skraapspan terwyl ons span besig is met die enigste gemagtigde inval?”
Mnr. Skeidsregter Punch: “Wel, daar was ‘n warm ontvangs vir albei van julle – met ‘n verskil!”
Die tydskrif Punch was ten tyde van die 1906-Springboktoer al goed gevestig en nog jare lank daarna berug vir sy satiriese humor, karikature en spotprente. Trouens, dit het al in 1841 ontstaan en is tot in 1992 gepubliseer, en daarna weer tussen 1996 en 2002.
Die volledige naam van die tydskrif Punch, or the London Charivari, dui daarop dat die tydskif ‘n navolger was van die hoonliedtradisie waarmee gemeenskappe ongewilde mense skaam wou maak en tot orde wou roep.
Paul Roos en sy span sou nie die onderwerp van ‘n hoonlied gewees het nie, want selfs in Britanje was daar groot agting vir die rol wat die span moes speel om versoening in Suid-Afrika na die vernietigende Anglo-Boereoorlog te bewerkstellig.
Só, die sondaar in hierdie geval was Ferreira en sy raap-en-skraapspan, wat ook êrens terselfdertyd met ‘n inval besig was. Dié relatief onbekende verhaal van hierdie dom, maar tragiese gebeure word onder meer vertel in https://www.namahariplaasmark.com/2022/07/gevegte-oorlog-veldslae-die-ferreira.html.
‘n Groep jong Boere-mans wat na die ABO in Duitswes saam met die Duitse magte aan militêre operasies deelgeneem het, het onder leiding van Pieter en John Ferreira op 6 November 1906 die grens oorgesteek om die Boere van die “Engelse juk” te bevry. Tien dae later, ná aanvalle op polisiekantore, smouse, jagters en ‘n geveg waarin twee van hulle gesneuwel het, is hulle gevangene geneem.
Van die groep se lede is ter dood veroordeel, maar is uiteindelik begenadig en het tot in die 1920’s tronkstraf uitgedien.
Kon dié gebeure ‘n invloed op die Springboktoer gehad het. Die Punch-spotprent dui gewis daarop en ons weet dat die toets teen Skotland op 16 November 1906 die enigste een was wat Paul Roos se span verloor het.
Die volksliedjie Vat jou goed en trek, Ferreira, het sy ontstaan uit hierdie gebeure gehad. Jannie met die hoepelbeen, verwys blykbaar na John Ferreira wat mank geloop het.
