

Die Maroen-Lenteloop onder leiding van Danie van Niekerk (1973) is beslis ‘n jaarlikse hoogtepunt op die Old Boys-kalender. Na onverwagse swaar reënbuie veroorsaak het dat ons die stap moes uitstel na Saterdag 23 September, is die 4 km lentestap in heerlike stapweersomstandighede aangepak.


Die oggend het afgeskop met die eet van ‘n varsgebakte muffin geborg deur KwikSpar Paul Roos. Die Geelhoutroete in die Jonkershoek-natuurreservaat is toe met hope energie en vrolikheid aangepak. Pragtige fynbos- en bergtonele het die deelnemers begroet en betower. Die lenteloop is met geesdrif voltooi en deelnemers gelaat met kosbare nuwe herinneringe.


Na afloop van die stap het deelnemers ‘n smullekker-plaasontbyt by Aunty Sophie se Kombuis saam geniet.
Die stap is voorafgegaan deur die oorhandiging van jong boompies aan leerlinge, geskenk deur die Klas van 1973 (sien berig elders) en die plant van bome in Assegaaibosch se piekniekterrein. Dit is nou die derde jaar dat bome geskenk deur Old Boys hier aangeplant word in samewerking met Cape Nature, asook ‘n geelhoutboompie vanjaar in die Jonkershoek-reservaat. Baie ou geelhoutbome langs die Geelhoutroete is ‘n paar jaar gelede in ‘n veldbrand vernietig.

