Edition / Uitgawe Oct 2023

Sakeleier van die Jaar Michael Jordaan (1985) gee goeie raad

From the interviews held with Michael Jordaan, after being chosen as Business Leader of the Year 2023 by Die Burger/Netwerk24/Kaapstad-sakekamer, it becomes clear that he is a great philosopher and that everybody can learn something from him.

Michael Jordaan (1985), wat pas deur Die Burger/Netwerk24/Kaapstadse Sakekamer as die Sakeleier van die Jaar vir 2023 aangewys is, is ‘n ware entrepreneur en probleemoplosser soos min. Na ‘n bekroonde loopbaan as uitvoerende hoof van een van Suid-Afrika se voorste banke, het hy na sy uittrede in 2014 nie gaan stilsit en sy fortuin geniet nie.

As stigter van die beleggingsmaatskappy Montegray Capital (na sy uittrede) het hy gesorg dat daar finansiële steun na innoveerders in die tegnologie-omgewing vloei en ook betrokke geraak by die 5G-datanetwerk rain en Bank Zero, wat die mobiele netwerk benut om vernuwing in die tradisionele bankwese te bring.

Hy is ook voorsitter van die SA SME Fondsbeleggingskomitee, die grootste waagkapitaalfonds in Suid-Afrika. Voorts is hy betrokke by CodeX, ‘n koderingsakademie wat Suid-Afrika laat byhou in die wêreld van sagtewareontwikkeling.

Jordaan is nou 55 en in ‘n onderhoud met Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, laat blyk hy dat hy nog ver van ophou is. Dit gee vir hom baie plesier om besigheidsprobleme op te los. “Ek probeer maar dinge nou beter maak,” het hy gesê en dit vergelyk met mense wat sudoku’s en blokraaisels aanpak.

Sy belangstelling in geldmaak het al in sy jeugjare begin toe hy as ‘n boekwurm agtergekom het hoe vinnig hase aanteel, ‘n verskaffersooreenkoms met die troeteldierwinkel aangaan en oorskietgroente by ‘n supermark kry het om sy hase te voer. Daar het hy besef dat geld die punte op die telbord vir ‘n onderneming is en dat ‘n besigheid net volhoubaar is wanneer ‘n mens voldoende wins maak.

Uit Netwerk 24 se onderhoud met Jordaan blyk dit dat hy deesdae ‘n kranige wynprodusent op die plaas Bartinney naby Stellenbosch is. Sy plaas se wyn is uitstekend, vertel hy en voeg by dat sowel Bartinney se chardonnay as cabernet in ‘n blinde proe in Londen die beste wyne ter wêreld geklop het. Sy belangstelling in boerdery het begin toe hy as koshuiskind aan Paul Roos Gimnasium naweke by sy ouma en oupa op dié plaas deurgebring het.

In albei berigte is daar stukkies advies waarby ondernemers sal baat vind:

  • Mense onderskat hoe geweldig belangrik dit is om wyd te lees;
  • Die uitdaging is om beter te dink as die kompetisie en jou besluitneming daarvolgens te rig;
  • Die rol van ‘n leier is nie om goeie besluite te neem nie, maar om goeie besluitneming te laat gebeur;
  • Ongeveer 95 persent van enige besigheid gaan nie oor die idee nie, maar hoe jy dit gedoen kry;
  • ‘n Belangrike ding in besigheid is hoe jy jou prys bepaal, wat jou kostestruktuur is en wat jou kliënt wil hê;
  • Jy is ‘n funksie van die soort mense waarmee jy jou omring. As die mense rondom jou begin goed regkry, skep dit energie;
  • Die groot skeiding in die wêreld gaan wees tussen mense wat toegang tot data het en mense wat nie het nie;
  • Jou werk gaan nie deur Kunsmatige Intelligensie weggeneem word nie, maar deur iemand wat dit beter as jy kan gebruik; en
  • Jy plant nie bome vir jou eie skadu nie, maar vir die volgende generasie.

Lees gerus die artikels hier: