Noudat die Bokke die riller van ‘n Hanegeveg oorleef het, dramaties die Engelse uitgeskakel het en die troosprys vir die Franse die reuse-sukses van die Rugby-Wêreldbekertoernooi is, kan ‘n mens bietjie terugkyk op ‘n klompie spesiale oomblikke waarby Paul Roosers betrokke was.
Die wyse waarop Damian Willemse (2016) solidariteit betoon het met ‘n skoolmaat wat vroeg in September na ‘n skietvoorval op Stellenbosch verlam gelaat is, het veral aangegryp. Hy het sy wedstryd teen Roemenië aan Benje Momberg opgedra en dit het duidelik op ‘n polsverband met Benje se naam en ‘n kruis vertoon toe hy oorgeduik het vir ‘n drie.
Min is nog oor die voorval bekend behalwe dat dit op 9 September by die Van der Stel-sportklub op Stellenboasch gebeur het. Benje is die mede-eienaar van die Upstairs-sportkroeg by dié klub, waar ‘n groep mans laataand die plek probeer beroof het en in die proses Benje raakgeskiet het. ‘n Klag van sakeroof en poging tot moord word ondersoek.
Benje, die seun van die wynmaker Ben Momberg en Visit Stellenbosch se uitvoerende hoof, Jeanerette, was ‘n klasmaat van Damian. Hulle het albei in PRG se eerste span gespeel en ook WP-kleure verwerf.
Volgens koerantberigte het Luna Paige, woordvoerder van PRG, gesê dit is goed om te sien dat broederskap wat op skool gevorm word, voortduur en oudleerders mekaar ondersteun.
Op Netwerk24 het die berig gunstige kommentare van 8 lesers met skuilname soos Suidwes-kind, reivilio, en Keelvol vir Misdaad ontlok en dit het respek by 30 ander afgedwing.
Op Die Burger se SMS-lyn was daar een persoon wat Damian se gebaar lofwaardig gevind het, maar gemeen het dit is jammer die skool daaruit munt probeer slaan.
Op 27 September word ‘n brief van Frikkie se Ma van die Paarl geplaas waarin sy noem dat haar seun in 1993 gematrikuleer het en in 2016 aan ‘n rare sindroom oorlede is. Een van sy klasmaats het ‘n spesiale ebbehoutkissie vir sy as gemaak en by die gedenkdiens het sy klasmaats hul PRG-dasse gedra.
Sy en haar man is vanjaar genooi om die klasgroep se 30 jaar-reünie by te woon. Sy beskryf die geleentheid as emosioneel dog vreugdevol. Sy sluit af met die woorde: Ons het weer eens besef die invloed wat hierdie skool op sy leerlinge het, bly hul lewenslank by. Dankie daarvoor, asook vir die waardes wat by hulle gevestig word.
Oud Springbokkaptein Schalk Brits en sy seuns het kykers gaande gehad met ‘n videogreep wat deur Supersport Rugby op X (voorheen Twitter) geplaas is. Meer as 115 000 mense het al gekyk hoe Schalk vanjaar se span gaan groet. In die meer as vyftig kommentare word die video as cool en Schalk as‘n lekker ou en altyd vriendelik beskryf.

Lees en kyk hier:
https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/gesels-saam/jy-sms-20230920-1519
https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/gesels-saam/dankie-paul-roos-vir-jou-waardes-20230926
https://x.com/ssrugby/status/1709825755423629705?s=48&t=TVa-cZdhS91Z4mcMdyVxnQ

