Next year’s Rhodes Bursary recipient, Willem Wilken, is a top-achiever since school days and hope to find through his further studies the answer on how the current and past injustices can be resolved through the economy.
Eikestadnuus, 5 November 2018
Willem Wilken, wat in 2013 gematrikuleer het, is onlangs as Paul Roos se Rhodesbeurswenner vir 2019 aangewys.
Wilken se vakgebied is die ekonomie en sy droom is om ’n bydrae tot die ontwikkeling van Suid-Afrika en van Afrika as vasteland te lewer. Hy beoog onder meer navorsing oor en betrokkenheid by die oplos van historiese en huidige ongeregtighede.
Wilken is geïnspireer deur die 1998-Nobelpryswenner Amartya Sen se werk Development as Freedom. Hy beoog om hom vir ’n meestersgraad in ekonomie aan die Universiteit Oxford in Engeland in te skryf en uiteindelik ook sy doktorale studie aan dieselfde universiteit voort te sit.
Dié slimkop is met sy studies aan die Universiteit Stellenbosch onder meer as top-ekonomiestudent in sy honneursjaar vereer en het die Cloetemedalje as die beste voorgraadse student in ekonomie ontvang. Hy was ook een van die top-32- eerstejaarstudente.
Van sy onderwysers by Paul Roos sê hy is akademies “in ’n liga van sy eie” – ’n buitengewone denker wat dinge op ’n ander vlak as die gewone akademiese presteerder beoordeel. Hy is nie bang om ’n eerlike opinie te lug nie, aanvaar dinge nie sonder meer nie en bevraagteken dinge as hy meen dis nodig. Hy doen dit om die waarheid aan die kaak te stel en is ook met niks minder as juis dít tevrede nie.
Wilken se passies is kookkuns, lees, draf en debatteer. Lees bly sy eerste liefde – wat ’n groot rol in sy uitsonderlike woordkunstigheid en interpretasievermoë speel.
Hy het op skool reeds skrywers soos Kant, Nietzsche, Proust, Laurence, Hemingway en meer onlangs JM Coetzee en Christopher Hitschens aangepak.
Hierdie berig word met die toestemming van die Eikestadnuus gepubliseer.
