Wanneer die Eersterivier in die wintermaande by tye in vloed is, benut studente en skoliere dikwels dié geleentheid om op binnebande en kano’s die rivier aan te durf – ‘n bekende gesig oor dekades!
Dikwels word die kano’s en bande by die hangbrug by Vergenoegd ter water gelaat en dan bloot koers gekies in die hoop om kop bo water te hou en die vaarders klim meestal veel laer by die Adam Tas-brug uit die water. Soms word selfs van hoër op in die Jonkershoek-vallei, soos by die sementbrug naby Oude Necktar weggespring.
Spontaan en dikwels ongeorganiseer, het dié vaarte ongelukkig al oor die jare tot verdrinkings gelei. In 1976 het die jonge Lance Lumsden van Paul Roos so sy lewe verloor. Dit is nie seker presies wat gebeur het nie. Die Semper van Junie 1976 het ‘n berig oor die voorval gehad, maar verstrek min besonderhede. Is daar dalk ‘n klasmaat wat ons meer kan vertel? Was Lance op sy eie of deel van ‘n groepie?


In die artikel in die Semper word geskryf: “Stil-stil en heeltemal onverwags het die Eersterivier ‘n mede-skolier van ons weggneem. So stil het dit gebeur, dat Lance Lumsden eers ‘n paar uur na sy verdwyning vermis is. Die boodskap is deur ons almal as ‘n skokkende ontnugtering ontvang, want hoe verdrink ‘n mens in die Eersterivier?”
Die volledige berig verskyn hiernaas. Kenners, soos mnr. A C Calitz, wat langs die Eersterivier groot geword het en tot vandag toe nog daar bly, en mnr. Sunley Uys, bekende kanovaarder, wys in die berig op gevare soos oorhangende boomtakke, rollende klippe en veral die yskoue water.

Inligting verskaf deur Mariena Kotze van die Argief
